MEER as 2 000 van Suid-Afrika se top jongwyne staan skouer-aan-skouer gereed om tot Vrydag by Nederburg onder die vergrootglas te kom tydens die jaarlikse SA Jongwynskou – die land se grootste en oudste wynkompetisie.
Net soos die kompetisie jongelingwyne ’n kans gee om hulle staal te wys, so ook bied die organiseerders, die Suid-Afrikaanse Nasionale Wynskouvereniging (SANWSV), jongeling-wynproeërs die geleentheid om hul evalueringsvaardighede tydens hierdie marathon proesessie te slyp.
Terwyl die proepanele vir elke kategorie uit sewe gekwalifiseerde en deurwinterde beoordelaars saamgestel is, voeg die SANWSV ’n agtste ontwikkelende beoordelaar by om sodoende ’n nuwe generasie wynbeoordelaars voor te berei.
Alle beoordelaars by die Jongwynskou moet oor die nodige proekwalifikasie beskik om op die panele te dien, ook die jongelingproeërs. Dis van groot waarde vir die Jongwynskou en ook die bedryf om ons jong wynmakers nou al op te lei vir die toekoms, sę Bennie Howard, ondervoorsitter van SANWSV.
Hoewel die aspirantwyne nog in hul babaskoene staan, kan die gesoute beoordelaars nou reeds die tekens van grootsheid eien.
Slegs een van hierdie meer as 2 000 wyne uit die 2010 oesjaar sal as beste wyn van die skou met die gesogte Generaal Smuts trofee huis toe gaan.
Dan is daar ook nog die Pietman Hugo trofee vir die kelder met die hoogste punte vir inskrywings in vyf kategorieë, sowel as ’n verskeidenheid ander kampioenskapstrofeë. Deelnemers sal egter moet asem ophou tot 19 Augustus wanneer die SA Kampioenwyne by die Lord Charles Hotel in Somerset-Wes bekend gemaak word.