EK het onlangs opgelet dat ’n klein deeltjie van die Victoriapark in Markstraat, Paarl, algaande as parkeerterrein gebruik word en gewonder wat is daar aan die gang.
Ek het toe met skok die berig in 22 Julie se Paarl Post gelees dat die Munisipaliteit van plan is om die park te verniel met ’n parkeerterrein.
Mense, ons het parke broodnodig. Die oplossing vir verwaarloosde parke is nie om dit toe te bou nie, dis om dit in ere te herstel.
Parke in die middel van ’n dorp is ’n teken van beskawing. Dit maak mense rustig om dit te aanskou en daarin te wandel.
Kindertjies uit die woonstelblokke oorkant die park in Markstraat het die geleentheid om buite te gaan speel. Troeteldiere kan ’n bietjie ruimte geniet daar. Ou mense kan die rustigheid daar geniet.
Sit eerder die “band stand” terug en stel dit beskikbaar vir die aanbied van rustige musiek. Vergeet die alewige ou “stalletjies” idee.
Huur ’n bussie vir die werknemers van die Munisipaliteit om hulle werk toe te bring en weer huis toe te neem smiddae.
Dit verskaf werk aan die vervoermaatskappye, dit verlig die verkeerslas op die strate, dit verminder besoedeling, dis veiliger.
Moenie torring aan die park se grootte nie - hou dit liewer in stand. Ter wille van die mense van die Paarl.
Asseblief.
Nelis