Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Rugby-flitse

Rugby-flitse
 
2010-07-29


EVERGREENS SKOK MAMRE

Evergreens Rugbyklub het Saterdag weer getoon dat hulle ’n span is om mee rekening te hou, toe hulle die voorlopers in die Presidentsliga 29-28 geklop het.

Evergreens se verdediging voorlangs, asook goeie kommunikasie tussen die agterspelers, het Mamre onkant gevang.

Evergreens se derde span het 10-10 gelykop gespeel en die tweede span het 14-12 gewen.

Evergreens se puntemakers was Jeremy Koukom (2 drieë) Anwill Philander, Adriaan Jacobs en Randall Geldenhuys (1 drie elk), terwyl Randall en Kelvin Beffels elk ’n doelskop oorgeklits het.

PEOPLES BIED SEWES AAN

Young Peoples Rugbyklub se jaarlikse sewestoernooi vind Vrydag vanaf 18:30 plaas op die Daljosafat-sportgronde.

Spanne wat in aksie gaan wees, is Peoples, Albions (huidige kampioen), Laer Paarl, Rangers, Gardens, Violets en Allandale. Toegang is R5 (R3 vir kinders o.12 en R5 vir voertuie).

WELLINGTON VAL WEER VAS

Wellington Rugbyklub het die afgelope naweek weer hul rieme styfgeloop, toe hulle met 22-25 vasgeval het teen Worcester Villagers.

Wellington se driedrukkers was Pieter Brynhard, Jannie Steenkamp en Nickus Bergh. Bergh het ook met twee doelskoppe en ’n strafdoel geslaag.

ROSES SE WEDSTRYD SKUIF

Roses Uinited se wedstryd teen Robertson, wat geskeduleer was vir dié week, is uitgestel tot 4 September.

HILLCREST PAK CITRUSDAL

Saterdag gaan Mbekweni blou wees wanneer Hillcrest en Citrusdal, die twee agterosse in hul liga, mekaar pak in ’n baie belangrike kragmeting.

Slegs sewe punte skei dié twee spanne. Met die manne van Wellington wat tans besig is om hul beste vorm te herwin, gaan hulle alles in die stryd werp om vir Citrusdal met die kous oor die kop huis toe te stuur.

Met Jerome Coetzee op die krukkelys, het Mario Oransie en Frederick Marang groot skoene om te vul. Hulle behoort egter maklik in te skakel en hul eie waardes tot die span te bring.

Indien Emile Booysen en Gerswin Heugh nie van hul beserings herstel nie, sal Clint Festus en Chivan ‘Whitey’ September waardige plaasvervangers wees.

Die klub hou Saterdagaand ’n funksie by 30 Plus.

RANGERS VERLOOR TEEN STRAND LIGA

Die Strandliga-span wat tans 7de geplaas is op die punteleer, het Saterdag vir Rangers ore aangesit met 16-31. Rangers was rustyd voor met 16-0.

Rangers beklee tans die derde plek op die punteleer en is goed op dreef om die liga te verower, indien hulle hul oorblywende vier wedstryde wen.

Saterdag kom kuier die voorlopers UWC, onder leiding van die oud-Boland afrigter, Deon Davids, asook speler-afrigter Quinton Davids. Dié wedstryd vind plaas op die Dal se C-veld.

VILLAGERS NEWTON SEËVIER

Villagers van Newton het Saterdag vir Young Blues aan flarde gehardloop en uiteindelik 13-3 geseëvier.

Newton het in alle fasette oorheers en die samespel tussen voor- en agterspelers was uitstekend.

Die eindtelling kon egter veel groter gewees het indien Villagers se skoppers nie hul skopstewels by die huis vergeet het nie. Villagers se puntemakers was Boegie Booysen (1 drie), Jason Sauls (1 drie), Mappa Fortuin (1 strafdoel). Villagers se tweede span het 36-0 gewen.

Saterdag speel Villagers op die Boy Louw-velde teen Mbekweni, waarna die klub ’n dans aanbied in Vanwyksvlei.

KN SE OU-MANNE VERGADER

Nederburg Sekondêr se oud-studente vergader Woensdag 4 Augustus om 19:00 by die skool, om die oud-studente derby-spanne te finaliseer.

Kontak JA Heugh by 071-868-6598 of 021-862-2720.



More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za