Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Vinnig, vinniger, Bitterhout!

Vinnig, vinniger, Bitterhout!
 
2010-07-29

Jaco van Wyk

DAAR was vir Lee-Roy Bitterhout gesê dat hy te klein is vir rugby. Daar was gesê dat hy oor die nodige spoed beskik om op die hoogste vlak mee te ding, maar dat hy fisiek nie die mas sal kan opkom nie.

In plaas daarvan om hom aan dié opmerkings te steur, het Lee-Roy eerder sy fokus op sy spel toegespits en vandag sit hy met SA skole-kleure in rugby.

“Ek was verbaas toe ek hoor dat ek die SA-span gehaal het, want die keurders het vir my gesê dat ek te klein is vir groot rugby,” sê die nederige vleuel van Klein Nederburg Sekondêr.

Ná hy ’n sleutelrol gespeel het vir Boland tydens die onlangse Cravenweek-toernooi, het dieselfde keurders seker aan hul woorde verstik, want toe kon hulle nie anders nie as om vir Lee-Roy te beloon vir sy briljante spel.

Lee-Roy (17) is nou maar eers in Graad 11, wat beteken dat hy volgende jaar wéér Cravenweek sal kan speel.

Hy het tydens vanjaar se toernooi vyf drieë in 3 wedstryde ingeryg en was ook in twee van dié wedstryde aangewys as speler van die wedstryd.

Of Lee-Roy volgende jaar sy spoed aan Boland se Cravenweekspan gaan leen, is op dié stadium egter ’n ope vraag.

Verskeie groot unies, soos die Cheetahs en die Haaie, het reeds voelers uitgesteek om Lee-Roy se dienste te bekom. Lee-Roy is egter nog nie seker wat sy toekomsplanne behels nie.

Een ding wat egter verseker is, is dat Lee-Roy in die spore trap van lewende legendes wat voorheen ook in die skoolbanke van Klein Nederburg Sekondêr gesit het, soos Chester Williams (oud-Springbokvleuel), Eugene Francis (Sewes Springbok), Burton Francis (Leeus-speler) en Elgar Watts (voormalige Boland Kavalier).

Volgens Lee-Roy, wat ook ’n uitstekende 440m hekkies-atleet is en vroeër vanjaar ’n silwer medalje verower het tydens die SA junior atletiekkampioenskappe, is hy opgewonde oor die geleenthede wat hy tot dusver gegun is - veral tydens die Cravenweek- en SA skole-toernooie.

“Om op ’n hoër vlak mee te ding is ’n lekker uitdaging, want jy word gemeet teen die land se beste jong spelers,” sê Lee-Roy.

“Die Cravenweek was veral lekker, want die manne speel hardlooprugby.”

Lee-Roy het ook speelkans gekry vir die SA skole-span, in hul wedstryd teen Namibië. Dié span het ook teen Frankryk en Engeland kragte gemeet.

“Om op nasionale vlak te speel, was weer ’n stappie hoër as Cravenweek. Dit was op dié vlak waar ek besef het dat, indien ’n mens se ingesteldheid reg is, kan mens op enige vlak meeding.”




More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za