Driekuns vir Kavaliers se generaal
2010-07-29
Jaco van Wyk
DIT gebeur nie aldag dat ’n losskakel drie drieë in een wedstryd druk nie. Tensy die losskakel se naam Willie le Roux is en hy besig is om die Boland Kavaliers te help om ’n weghol-oorwinning oor die Valke te behaal. Le Roux se driekuns was uiteindelik ’n derde van die drieë (Boland het nege keer gaan druk) wat deur die Kavaliers behaal is, tydens Saterdag se 53-10 spogsege oor die rooitruie van Kemptonpark. Boland was rustyd gemaklik voor met 22-3. Boland se hoofafrigter, Eugene Eloff, is egter versigtig om té opgewonde te raak oor dié oorwinning. “Die Valke was nie sterk opposisie nie. Hulle moet gesien word as ’n amateurspan en nie as opgewasse teenstanders nie. “Wat egter verblydend is, is die feit dat ons by ons strukture gehou het. Ons was ook goed vanuit gebroke spel,” sê Eloff. Dit was juis vanuit gebroke spel waar die Wynboere hul meeste drieë gedruk het. Le Roux was skitterend op dreef, terwyl ander individue, soos Bolla Conradie, Franzel September, Jacquin Jansen en Zandre Jordaan ook goed vertoon het. “Ons het ons doelwit behaal om die volle 5 punte teen die Valke te kry, maar nou sit ons dié wedstryd agter ons,” sê Eloff. “Ons ware toets is eers Saterdag teen OP.” Ná twee wedstryde is OP nog onoorwonne. Eloff sê hy is min gepla oor wat die telbord gaan lees ná komende Saterdag se wedstryd teen die Olifante. “Meer belangrik as die eindtelling, is die uitvoering van ons spelpatroon. Ons sal vir 80 minute moet klinies wees teen een van ons sterkste opponente.” Slegs twee veranderinge sal gemaak word vir Saterdag se wedstryd teen OP (om 16:00 op die Boland-stadion). Op slot vervang Grant le Roux vir Rod Labuschagne en op die plaasvervangerbank vervang Wesley Kotze die beseerde Nikolai Blignaut. Boland se driedrukkers Saterdag was: Jacquin Jansen (2 drieë), Willie le Roux (3 drieë), Dewey Swartbooi, Jeremy Plaatjies, Hottie Louw en Bolla Conradie. Jansen en Chris Micklewood het elk 2 drieë verdoel.
More
News
|