Aanrandingsaak van drie jaar byna klaar
2010-07-29
Liezl Dyson
DIE aanrandingsaak van die voormalige ANC-raadslid Dan Kotze bereik binnekort sy einde, ná drie jaar. Kotze word daarvan beskuldig dat hy Trevor en Joan Ernstzen van die plaas Le Fût in Klein Drakenstein in 2007 aangerand het. Die verdediging het verlede week vir Titus Hendricks (ook ’n voormalige raadslid en ’n vriend van Kotze) na die getuiebank geroep. Hy het getuig dat Kotze hom die aand van die voorval gebel het om te sê dat hy aangerand is en dat hy polisiestasie toe gaan. Volgens Hendricks het hy vir Kotze buite die polisiestasie ontmoet. “Mnr Kotze het vir my gesê dat hy aangerand is deur die plaaseienaar. Hy het gesê hy gaan ’n aanrandingsaak maak. Hy het my gewys hoe sy kar se ruit ingegooi is. Daar was skrape op sy gesig en sy oog was rooi.” Hy het getuig dat hy vir ’n tydjie saam met Kotze by die polisiestasie gebly het, waarna hy na Kotze se huis gegaan het om Kotze se vrou in kennis te stel. Martin Green, Kotze se regsverteenwoordiger, het aan hom voorgehou dat hy in besit is van foto’s van die dag toe sy kliënt aangerand is. Hendricks het aan die hof gesê dat hy die aand van die voorval foto’s van Kotze se gesig geneem het. “Ek het die foto’s geneem met mnr Kotze se selfoon-kamera, dieselfde aand.” Toe hy die foto’s aan Hendricks gewys het, het hy geantwoord, “dit lyk na die foto’s wat daardie dag geneem is.” Hy het ook getuig dat Kotze nie vir hom gesê het op watter plaas hy aangerand is nie, net dat dit op ’n plaas gebeur het. Hy het gesê hy het die foto’s geneem omdat hy op daardie stadium baie bekommerd was oor Kotze. Die staatsaanklaer het hom gevra hoekom, indien hy so bekommerd was, hy nie vir Kotze dokter toe geneem het nie. Hendricks het geantwoord dat hy meer bekommerd was oor Kotze se posisie in die gemeenskap. Hendricks het ook erken dat dit moontlik was dat hy die foto’s geneem het om Kotze se politieke beeld te versterk. Finale betoë word gerig op 6 Augustus.
More
News
|