VERMAAKLIEFHEBBERS kan uitsien na ’n opwindende feeskalender tydens vanjaar se Cultivaria-kunstefees van 23 tot 26 September.
Besprekings is reeds oop by www.cultivaria.com (die hoofborge is die Drakenstein Munisipaliteit en FNB). Van Suid-Afrika se gewildste kunstenaars sal by verskeie lokale regoor die Paarl optree, insluitend Chris Chameleon met sy vertoning Noot vir Brood, wat vir Cultivaria geskryf is.
Kevin Leo, Danie Niehaus en Matthys Roets keer terug met ’n nuwe vertoning van Drie van die Bestes, terwyl Coenie de Villiers, Amanda Strydom, Valiant Swart asook Nianell en Dozi ook hulle buigings op die Cultivaria-verhoog gaan maak.
Die trefferproduksie Afri-Frans met Myra Maud en Anna Davel word ook aangebied en gehore kan uitsien na die Franse weergawe van tradisionele Afrikaanse luisterliedjies. In hierdie produksie tree van die land se heel beste musikante soos Matthys Naree, Denny Lalouette, David Klassen en Mauritz Lotz op.
Feesgangers se lagspiere gaan beslis geprikkel word deur van die land se top komediante. Dowwe Dolla 007 is in aksie met Geskud en nie Gepluk nie, terwyl die skreeusnaakse Casper de Vries saamspan met Shaleen Surtie-Richards (Nenna van Egoli-faam) vir Bloemers en Roemers en Rian van Heerden met sy nuwe satire Bols weer eens die wenkbroue sal lig.
Besoekers kan die Heinz emporium by die Faure-stadion besoek vir wêreldklas wyne en versnaperinge of kosdemonstrasies in die Bokomo Kombuis. TV aanbieder en kookboekskrywer Sonia Cabano span saam met skrywer Johan Bakkes, joernalis Lise Beyers en kontreikoskenner Dine van Zyl om heerlike geregte te demonstreer.
Daar is ook lekker vermaak vir die jongspan.
Vir die volledige program en besprekings, besoek www.cultivaria.com. Slegs kredietkaartbetalings word aanvaar. Kontant-aankope kan by die feeskantoor gedoen word. Vir navrae, skakel 021-872-9754.