Vrou in hand geskiet tydens onluste
2010-07-29
Lise Beyers
’n JONG vrou van Vanwyksvlei het byna haar hand verloor tydens die onlangse uitbarsting van vermeende xenofobiese aanvalle. Op die aand van 11 Julie het Tanya Jeneke (21), ’n ywerige sokkerspeler, oudergewoonte saam met vriende sokker gaan speel in Maylaan. “Ons het nog heel rustig gespeel, toe polisievoertuie heen en weer begin ry het.” En volgens Tanya het die rus en vrede baie skielik verander, toe lede van die gemeenskap amok begin maak het by ’n Somaliese winkel in dié straat. “Ons het nog lekker gespeel en toe hoor ek wat klink soos ’n skietery. My vriende het al begin hardloop en net toe ek agter hulle wou aan, voel ek ’n geweldige brand-pyn in my hand. Toe ek weer kyk is dit net bloed. “Ek het na ’n vriend van my se ma gehardloop om hulp en sy het my huis toe geneem na Wil- liamslaan. “Ons het ’n ambulans ontbied, maar weens die onluste in die gebied kon hulle my nie kom haal nie en my pa, Edgar, moes inderhaas vir my na Paarl Hospitaal toe neem.” Tanya het dringend chirurgie benodig weens die erns van die skietwond. Dokters kon egter eers die volgende oggend opereer, weens geweldige swelling wat in haar hand plaasgevind het. Tanya is oortuig dat sy deur ’n polisiekoeël getref is, maar Mbekweni stasiebevelvoerder, lt-kol Cornelius Geldenhuys, het gesê dat geen skote daardie aand deur die polisie afgetrek is nie. “Ons was wel in die gebied om ’n Somaliese winkeleienaar by te staan om sy winkel te ontruim weens aanvalle daardie aand. “Die Jeneke-familie het ’n saak by die polisiestasie gemaak in verband met die skietvoorval, maar die polisie het dié betrokke aand geen skote geskiet nie.” Die saak word verder ondersoek. Intussen sal Tanya eers môre uitvind of sy die volle gebruik van haar hand sal terugkry, wanneer die verbande afgehaal word. * A young woman claims to have been shot in the hand by police during recent attacks on foreigners.
More
News
|