DIE 35-jarige bestaansvieringe van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument skop volgende Donderdag, 12 Augustus, om 19:00 af met die vierde jaarlikse Mathews Phosa-lesing.
Vanjaar se spreker is prof Russel Botman, rektor van Stellenbosch Universiteit, wat ’n lesing by die Taalmuseum sal lewer oor “Afrikaans in die 21ste eeu”.
Toegang is gratis, maar daar is slegs beperkte sitplek beskikbaar. Die geleentheid sluit ook ’n begeleide toer deur die Taalmuseum in.
) Op Taaldag, 14 Augustus, kan volwassenes én kinders ’n opwindende reis terug in tyd beleef by die Taalmuseum in Pastorielaan.
Op hierdie dag in 1875, vanjaar 135 jaar gelede, is die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) in dié destydse huis van Gideon Malherbe gestig.
Besoekers sal eerstehands kan ervaar hoe die lewe destyds was en onder andere kan poseer vir ’n foto in klere van toeka langs die drukpers waarop die eerste Afrikaanse koerant gedruk is.
Plaaslike kunstenaars sal liedjies en gedigte op die voorstoep uitvoer terwyl besoekers melktert, koeksisters, gemmerbier en koffie sal kan geniet.
Die “Terug na 1875” ope dag vind van 10:00 tot 14:00 plaas en kaartjies by die deur kos R12 (R5 vir studente en R2 vir kinders).
) Op Sondag 29 Augustus om 15:00 word ’n Vrouedag gesondheidspraatjie in die kerksaal van die Bethel Cong Kerk in Paarl-Oos aangebied deur die Afrikaanse Taalmuseum en -monument en The Lofted B&B.
Die hoofspreker by die geleentheid is Herman Uys, skrywer van die topverkoper “God se apteek: jy is wat jy eet en jy is wat jy nie eet nie”, wat al die pad van Pretoria kom. Kaartjies teen R40 per persoon is beskikbaar by die Taalmuseum.
Alle gaste word gevra om ook ’n bydrae te maak in die vorm van vars vrugte en of groente wat aan die kerk se sopkombuis geskenk sal word.
Vir besprekings en navrae, kontak Amira Clayton by 021-872-3441 of kommunikasie@taalmuseum.co.za.