Die Wetenskap Expo kruip nader
2010-08-05
OP 26 en 27 Augustus word die Stellenbosch-streekkompetisie van die Eskom Expo vir Jong Wetenskaplikes op Stellenbosch gehou. Voornemende jong wetenskaplikes moet opskud as hulle nog hul projekte wil inskryf vir die jaarlikse expo. Inskrywings sluit 6 Augustus. Die Expo vir Jong Wetenskaplikes moedig leerders aan om navorsing te doen. Hulle kry die kans om probleme te identifiseer, hipoteses te formuleer, data te versamel en te analiseer, afleidings te maak en om hul bevindinge effektief aan ander mense oor te dra. “Die hoofdoel van die kompetisie is om wetenskap in skole te bevorder, kritiese denke aan te moedig en leerders te help om navorsingsprojekte op ’n sistematiese, wetenskaplike manier aan te pak,” vertel organiseerder Erika Hoffman van IWWOUS. Leerders kan projekte in 25 verskillende kategorieë inskryf en moet ’n goedgedokumenteerde uitstalling en navorsingsverslag voorlê. Deel van die beoordelingsproses behels ook persoonlike onderhoude tussen die beoordelaars en elke deelnemer. Ná afloop van die streekskompetisie word medaljes en spesiale pryse aan die beste projekte toegeken, terwyl ’n streekspan ook gekies word om in Pretoria aan die Nasionale Eskom Expo vir Jong Wetenskaplikes deel te neem. Vir meer inligting, kontak gerus vir Erika Hoffman by 021-808-3482 of stuur ’n e-pos na ehoff@sun.ac.za. Of besoek die webwerf by www.imstus.sun.ac.za/expo.
More
News
|