Interskole 2010 is geen ‘antiklimaks’
2010-08-05
Jaco van Wyk
INTERSKOLE ’n antiklimaks? Nooit! Die meeste mense mag dalk redeneer dat vanjaar se skouspel minder opwindend was as ander jare, bloot omdat die eerste rugbyspanne van Hoër Jongenskool en Hoërskool Gimnasium met 19-19 die louere moes deel. Toe die eindfluitjie blaas, wou dit voorkom of die toeskouers nie geweet het of hulle moet juig of moet huil nie. Verskeie tradisies, ’n trotse geskiedenis en die gees wat met Interskole tussen Boishaai en Gim gepaard gaan, verseker egter dat die wêreld se grootste skole-stryd nóóit met ’n antiklimaks geassosieer kan word nie. Buiten die o.19A rugbywedstryd, is daar die o.19A-netbal, die eerste hokkiespanne, al die laer-spanne van alle sportkodes, die old boys, gholf en skaak, asook die laerskole-spanne, wat bydra tot die sukses en opwinding van interskole. Buiten die groot skare mense wat deur die loop van verlede week bogenoemde wedstryde bygewoon het, het daar Saterdag meer as 18 000 toeskouers opgedaag by die Faurestraat-stadion, om te aanskou hoe Gim en Boishaai se o.19A-spanne vir slegs die negende keer in 82 kragmetings, die louere moes deel. Interskole het vir die eerste keer in 1929 plaasgevind en sedertdien was Gim reeds 40 keer aan die wenkant, met HJS 33 keer die wenspan. Ondersteuners kon ook nog nooit stry oor die gehalte rugby wat elke jaar tussen die o.19-spanne opgedis word nie, met vanjaar se hoofwedstryd niks anders as ’n naelbytstryd nie. Hoewel Boishaai hulself vandag kan skop dat hulle Saterdag nie vroeër die doodskoot kon plant nie, kan Gim hulself skop omdat hulle nie vroeër in die wedstryd reeds met dieselfde vuur gespeel het as in die laaste tien minute nie.
More
News
|