DIE produksie Ster: Skitter in die donker is Vrydag 13 Augustus om 20:00 te sien by die Ou Meul-teater, met blinde pianis Ster, asook digter/sanger Stef Bos.
Wat moet ’n mens maak wanneer klanke jou wêreld binnekom, ’n wêreld wat vir jou geen gesig het nie? Jy maak hiérdie klanke joune en gee dit lewe. Dit is wat Ster doen.
Ster is blind gebore en het deur die jare ’n manier van sien ontwikkel waarvoor jy nie oë nodig het nie. Sy voltooi in 1997 haar BMus-graad aan die Universiteit van Stellenbosch en is tans in Kaapstad woonagtig.
Haar liefde vir musiek het haar genoop om die beelde wat sy oor die afgelope paar jaar waargeneem het in unieke komposisies te omskep, wat sy op klavier laat léwe.
In hierdie donkerkonsert word die gehoor dus geneem op ’n reis na die kern van die musiek, wat dit opsigself ’n uitsonderlike ervaring maak.
Die vertoning word ’n eenheid deurdat sanger/digter Stef Bos van sy digwerk gaan voorlees voor en gedurende die musiek.
Kaartjies is R80 by Vicky Stemmet by 083-564-0056 of by vstemmet@gmail.com.