Pniel Villagers karnuffel Collegians
2010-08-05
DIE eerste rugbyspan van Pniel Villagers het hul wen-momentum behou deur Collegians Saterdag met 56-14 te slag, en sodoende hul posisie op die Superliga B-punteleer aansienlik verbeter. Ná ’n gesukkel in die eerste ronde, toe die span slegs twee oorwinnings uit nege kon behaal, het hulle nou reeds vyf seges agtereenvolgens in die tweede ronde behaal. Dié span toon tans groot karakter en hul potensiaal kom nou eers werklik na vore. Collegians is ’n baie beter span as wat die telling weergee, maar die tuisspan het soos ’n goed ge-oliede masjien op alle silinders geloop en die besoekers totaal oorheers in elke afdeling van die spel. Sewe sprankeldrieë is in die proses behaal en teen rustyd was die skrif reeds vir die besoekers aan die muur met die telling 35-6. Teen dié tyd was die bonuspunt vir vier drieë ook reeds in die sakkie. Pniel se vertoning was ’n ware spanpoging waar voor- en agterspelers mekaar gevind en aangevul het. Pniel se held van die dag was ongetwyfeld die binnesenter Stefanus Cedras, wat nie minder nie as 24 punte aangeteken het. Driedrukkers vir Villagers was Fernando Adams, Enrico du Preez (2), Stefanus Cedras, Aubern Natus, Garland Alberts en Graeme Sambo. Stefanus Cedras het met drie strafskoppe en vyf doelskoppe geslaag. Pniel speel eerskomende Saterdag tuis teen Kraaifontein.
More
News
|