Smouse moet trek
2010-08-05
Lise Beyers
VAT jou goed en trek Ferreira! Dit was die boodskap van die Drakenstein Munisipaliteit aan smouse in Lady Grey-straat, hoof-inkopiestraat van die Paarl, verlede Vrydag, toe hulle amptelik in kennis gestel is dat hulle nie meer in dié straat welkom is nie. Munisipale amptenare het briewe aan die smouse uitgedeel waarin hulle in kennis gestel is dat hulle Saterdag die trekpas kry en teen Dinsdag moet versit na Patriotplein, waar staanplekke afgebaken is. Naweeksmouse sal gebruik moet maak van die Bergrivierwal naby die taxistaanplek. Verder is hulle ook aangesê om aansoek te doen om permitte om te mag handel dryf, maar hulle sal nie gevra word om huurgelde te betaal nie. Volgens die kennisgewingsbrief, sal daar vanaf 10 Augustus geen smouse in Lady Greystraat toegelaat word nie. Smouse op Wellington sal binnekort ook hul trekpas-briewe ontvang. Die verskuiwing van die Paarlse smouse kom al ’n lang pad. Dit is deel van ’n herontwikkelingsprojek van die middedorp om nuwe lewe in dié kwynende gebied te blaas. Die beplande herontwikkeling geskied as deel van ’n vennootskap tussen die Drakenstein Munisipaliteit en aandeelhouers vanuit die private sektor. Daar word onder andere beoog om gedeeltes van Lady Greystraat, Newstraat en Fabriekstraat te omskep in voetganger-arkades. Verder word opgradering en herontwikkeling van parkeerterreine beoog, om die gebied te beveilig en aantreklik te maak vir tradisionele kopers in die area. Veiligheidsmaatskappye, in samewerking met tradisionele wetstoepassers, sal die area beveilig. Die eerste stap is die verskuiwings van die smouse wat al jare lank ’n tameletjie in die middedorp is. * Hawkers in Lady Grey Street, Paarl, were handed municipal notices last week, informing them that they may no longer trade in the street as from 10 August.
More
News
|