Wellington pak misdaad met mening
2010-08-05
Lise Beyers
TALLE lede van die polisie sowel as die gemeenskap het die afgelope naweek bygedra tot ’n misdaadvoorkomingsoperasie op Wellington. Die polisie hiér ondervind veral naweke probleme met misdrywe soos publieke dronkenskap, dwelmhandel en algemene wetteloosheid. Die omliggende plaaswagte, buurtwagte, sektorvoorsitters en bekommerde lede van die publiek het tyd afgestaan om hierdie bul by die horings te pak. Die middedorp is vanaf 08:00 tot 12:00 gepatrolleer en die polisie het gevind dat, alhoewel dit die einde van die maand was, wat berug is vir misdaad in die dorp, ’n rustigheid oor Wellington geheers het tydens hul teenwoordigheid. Maar die oggend was nie geheel en al sonder voorval nie. Twee mense is gearresteer vir die besit van dagga en tien mense is toegesluit vir dronkenskap. Die stasiebevelvoerder, kol Johan Barkhuizen, het sy tevredenheid met die operasie uitgespreek. “Die publiek het baie positief gereageer teenoor ons. Hierdie gaan beslis nie ’n geïsoleerde operasie wees nie, en ons beoog om gereeld op te tree in die middedorp. “Dit is tyd dat die dorp teruggegee word aan sy inwoners.” Enigiemand wat wil aansluit by soortgelyke projekte, kan a/o Pierre Hugo skakel by 082-443-5714.
More
News
|