Kavaliers span twee klubspelers in
2010-08-05
Jaco van Wyk
DIE Boland Kavaliers het Saterdag te doen gekry met ’n begeesterde span van die Oostelike Provinsie, om met 22-33 vas te val op die Boland-stadion. Swak lakwerk en ’n tekort aan geduld met die bal in die hand, het uiteindelik die Kavaliers se ondergang beteken. Soos Boland se hoofafrigter, Eugene Eloff, na afloop van dié wedstryd gesê het: “Goeie verdediging wen groot kompetisies, maak nie saak hoe goed ’n span se aanvallende vermoëns is nie.” Gepraat van aanvallende vermoëns. Die Kavaliers verdien krediet vir die manier hoe hulle spasie benut het vanuit gebroke spel - net soos twee naweke gelede die geval was teen die Valke. Omgekeerde besit deur die Kavaliers het uiteindelik uitgedraai tot 3 van die mooiste drieë wat in ’n lang ruk op die Boland-stadion gesien is. Boland se drieë is gedruk deur Jeremy Plaatjies, PJ Vermeulen en Cornal Hendricks. Eloff voel egter dat sy span konstant moet goed vertoon. “Ja, ons is besig om ’n wenspan te bou, maar ek is ontevrede met die vertoning teen OP en was Maandag hard op die ouens. “Ons is fiks en goed-gekondisioneerd, maar nou moet ons koppe ook regkom,” sê Eloff. “Ons het sagte drieë afgestaan, wat eenvoudig onaanvaarbaar is.” Intussen kom Eloff sy belofte steeds na, om klubspelers vanuit die Boland in te span. “Eerskomende Saterdag teen SWD gaan ons vir twee klubspelers ’n geleentheid gee om hul staal te toon. Thor Halvorsen en Brandon April sal albei speelkans kry.” * Buiten Plaatjies, Vermeulen en Hendricks se drieë, het Jacquin Jansen twee doelskoppe behaal en Willie le Roux het met ’n skepdoel geslaag. ) Eerskomende Vrydag kom Boland te staan teen die SWD Arende in George.
More
News
|