DIS feestyd in die Paarl met die jaarlikse Cultivaria-kunstefees. Musiekliefhebbers kan uitsien na die terugkeer van die hooffeesproduksie Tydloos met musieksterre Jannie Moolman, Kevin Leo, André Schwartz, Arina de Witt en Rina Hugo.
Die glansproduksie Tydloos Encore is spesiaal vir Cultivaria geskryf deur Leon van Nierop en bevat uittreksels van die mees gewilde liedjies uit vorige vertonings. Soos in die verlede beloof Tydloos Encore om een van die feeshoogtepunte te wees met ‘n wye verskeidenheid solo’s, duette en meesleurende samesang. Die samestelling van Tydloos Encore is ’n keurspel van aangrypende musiek en sal gehore op hulle voete hê.
Tydloos Encore word saamgestel deur musikale direkteur en pianis Matthys Maree en word begelei deur ’n orkes van die land se voorste musikante.
Vanjaar se Cultivaria-fees skop af met die Bovril langtafel dinee op 23 September. Van 24 -26 September maak van die land se top kunstenaars hulle buiging op die Cultivaria verhoë by verskeie lokale regdeur die dorp. Die stampvol program bied ’n fees vir die sintuie met verskillende musiekproduksies, teateropvoerings, dansuitvoerings, komedie, klassieke musiek en kuns.
Die Heinz Emporium by Faure-stadion is die plek om te ontspan tussen vertonings en heerlike wyne en versnaperinge te geniet.
Verskeie stalletjies sal kuns- en handwerkprodukte sowel as juweliersware verkoop. Toegang tot die Heinz Emporium word gratis ingesluit by die aankoop van enige Cultivaria-produksiekaartjie op dieselfde dag. Kaartjies is ook by die hekke beskikbaar teen R10. Vanjaar se emporium spog met ’n oopplan onthaalarea sowel as die Bokomo kombuis, waar besoekers kan leer om heerlike geregte voor te berei. TV-sjef en kookboekskrywer Sonia Cabano sal daagliks agter die kospotte inskuif saam met plaaslike koskenners soos Johan Bakkes en Dine van Zyl vir gratis kookdemonstrasies.
Dan kan feesgangers ook hulle gunstelingkunstenaars van nader leer ken wanneer skrywer Johan Bakkes saam met hulle kuier op die Tygerburger Heinz Onderhoudverhoog. Bakkes gesels onder andere met die sterre van die feesproduksie Tydloos, komediant Rian van Heerden, skrywer PG du Plessis, Dowwe Dolla en Chris Chameleon.
Die jongspan kan hulle eie jeugprogram geniet met opvoerings, musiek en pretaktiwiteite in die Liqui-Fruit kinderteater. Vir tieners is daar ook etlike vertonings om na uit te sien. Pop-rock sensasie aKING is te sien vir ’n eenmalige vertoning, terwyl die a capella groep Navi Redd ook terugkeer met ’n splinternuwe produksie. Sangeres Louise Carver sal liedjies van haar nuutste CD Look to the Edge asook ander nommer een treffers tydens haar vertoning opvoer en die instrumentele supergroep Sterling EQ is te sien in twee sensasionele optredes.
Kaartjies vir alle vertonings kan aanlyn bespreek word by www.cultivaria.com. Vir telefoniese navrae, skakel 021-872-9754.