PAARL, verbeel jou Lady Grey-straat sonder smouse.
As jongmens en jarelange inwoner van Paarl, kan ek nie. Vandat ek kan onthou, is daar al stalletjies langs die pad. Ek onthou hoe ek as klein dogtertjie saam my ma in die straat geloop het.
Dan skrik ek my boeglam vir die man wat van nêrens uitspring met ballonne, borrels en ’n paar sokkies oor sy skouers. “Maram hoe lykit met ’n toy viri kleinkie?”
My ma sou sê nee dankie en verder stap, ek kyk kwaad terug en wens sy het gestop. Op pad terug na die taxi toe weer, begin ek kerm as ek die ou weer sien. Ons stop en ek stap bly weg as my ma die bubbles vir my koop. Die man sal my met ’n glimlag agterna kyk en ogie knip. Vandag besef ek dit was dan sy manier om vir my dankie sê vir die ondersteuning.
Ek is seker daar is nog baie mense in die gemeenskap (oud en jonk) wat ’n storie kan vertel oor hulle ervaring met die smouse.
Ja, ek moet bieg soms kan hulle irriterend wees, maar hulle doen net hulle werk. Die smouse staan nie langs die pad vir die lekker nie. Sommige van hulle doen dit vir ’n ekstra inkomste en sommige vir hul enigste inkomste. Ons praat hiervan broodwinners vir hulle families.
Nou wil die Munisipaliteit mense wat ’n eerlike bestaan probeer maak, wegjaag. Wie gaan vir hulle families sorg? Vir sommige van hulle is dit al wat hulle ken - ’n familiebedryf wat nou al generasie vir generasie aangaan. Wat van die ou wat groot drome het en vir wie dit net ’n begin is? Is dit hoe dit in die Paarl werk? Ons ondersteun buitelanders (Chinese, Pakistani’s, Somaliërs), maar jaag ons eie mense weg - altans dit is hoe dit lyk. Watter boodskap stuur ons, aan ons jongmense? Smokkel van die huis af met drank, maar moenie langs die straat staan en sokkies, brille, klere verkoop nie?
Die dorp gaan dood wees sonder die smouse. Aan die Munisipaliteit - heroorweeg julle besluit asseblief.
Kêrel vanie Pêrel