Computicket-tak vir Stokkiesdraai
2005-09-29
DIE vierde Stokkiesdraai Kunstefees vind van 22 tot 29 Oktober op Wellington plaas.
Hierdie jaar spog die fees met ’n eie Computicket-tak in die Wellington Toerisme-kantoor in die Hoofstraat waar kaartjies verkoop word.
Een van dié kunstefees se oogmerke is werkskepping op Wellington en omgewing en daarom het Computicket plaaslike studente vir die kaartjieverkope opgelei.
ESDLE (Die Eenheid van die Nasionale Departement van Arbeid) neem jaarliks mense in diens wat opleiding ontvang en dan vir leerlingskappe uitgeplaas word.
Die Stokkiesdraai Kunstefees het vier van hierdie Toerisme-studente van Boland Kollege in diens geneem by die kaartjiekantoor en ’n hele aantal ander studente vir ander algemene bemarkingsdoeleindes.
“Nie net kry die studente die geleentheid om hul indiensopleiding by die Stokkiesdraai Kunstefees te voltooi nie, maar ons probeer ook om hulle met nuwe kennis en ’n liefde vir die kunste die wêreld in te stuur.”
So sê Suzette Riedel, fees-direkteur van die fees, wat self ’n oudonderwyseres is en die belangrikheid van praktiese toepassing van studiemateriaal besef.
Skakel die feeskantoor by 873-3988 vir meer inligting. Hou ook www.stokkiesdraai.co.za dop vir meer besonderhede.
More
News
|