OP Taaldag (14 Augustus), kan volwassenes én kinders ’n opwindende reis terug in tyd beleef by die Taalmuseum in Pastorielaan, Paarl vanaf 10:00 tot 14:00.
Op hierdie dag in 1875 is die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) in dié destydse huis van Gideon Malherbe gestig. Besoekers sal tydens dié ope dag kan ervaar hoe die lewe destyds was - die lewensomstandighede en tydsgees van die GRA word so getrou moontlik in die museum voorgestel sodat die publiek ’n beeld kan vorm van die struikelblokke wat hulle moes oorkom. Die huis is omstreeks 1860 gebou deur Malherbe, ’n welgestelde besigheidsman en wingerdboer van die Paarl. Vier vertrekke op die onderste vloer van die huis is ingerig soos dit in 1875 was. Daar is so ver moontlik probeer om die huis met die oorspronklike meubels, ornamente en gebruiksvoorwerpe in te rig.
In die eetkamer sal die GRA se eerste vergadering uitgebeeld word en ’n museumgids sal meer oor dié organisasie vertel.
Die lede van die Dorcas Susters sal die fynere kuns van hand- en naaldwerk demonstreer. In die perskamer sal besoekers kan poseer vir ’n foto in klere van toeka langs die drukpers waarop die eerste Afrikaanse koerant, “Die Afrikaanse Patriot”, gedruk is. In die voormalige slaapkamer van Gideon Malherbe sal ’n museumgids die Malherbe se familiegeskiedenis verduidelik aan die hand van ’n familiestamboom en foto-album. Plaaslike kunstenaars, onder wie die trekklavierspeler Koos Koegelenberg en die plaaslike skrywer Petro Rhode, sal liedjies en gedigte op die voorstoep uitvoer waar besoekers melktert, koeksisters, gemmerbier en koffie sal kan koop. Kinders sal ook outydse speletjies soos “Graces” kan leer speel. ’n Museumgids sal ook beskikbaar wees vir begeleide toere. Kaartjies sal by die deur te koop wees teen R12 (R5 vir studente en R2 vir kinders).
Skakel 021-872-3441 of 076-017-6026.