Paarl Hengel lê bo in Premier-afdeling
2010-08-12
DIE Paarl Varswaterhengelklub se sewende kompetisie van die jaar is gehou in koue, bewolkte toestande te J-Dam naby Muizenberg. Die karpe het hulle egter nie deur die koue laat afskrik nie en 47 visse is gevang vir ’n totaal van 155kg, met ’n gemiddelde van 3,3kg per vis. ’n Hele paar visse van 5kg of meer is gevang, met die grootste vis deur Foxie Foxcroft, met ’n gewig van 7,59kg. Sydney Diedericks was die beste hengelaar vir die dag met 13 vis vir 41,3kg. Oos Olfin was tweede met 8 visse vir 21,2kg en Paul Greyling junior was derde met 3 visse vir 16,2kg. Lucy Esterhuize was die enigste dame wat ’n vis kon vang en so ook Emile Saayman onder die juniors. Wat die algehele puntestand betref, is Sydney Diedericks nou net een punt voor Greyling junior, met Phillip Theron in die derde plek. Magriet van Eck is nog steeds die voorloper onder die dames met Elsa Breytenbach in die tweede plek en Magda Otto in die derde plek. Die Paarlklub doen tans baie goed in die liga-kompetisies. Met nog net een liga-kompetisie vir die jaar oor, is Paarl-klub eerste in die Premier-afdeling, tweede in die Presidentsafdeling, tweede in die Voorsitters A-afdeling en eerste in die Voorsitters B-afdeling. Eerskomende en volgende naweek vind die laaste liga-kompetisies plaas by die Brandvlei- en Kwaggaskloofdamme te Worcester. Die volgende klubkompetisie is op 4 September by die Phesantekraaldam naby Durbanville.
More
News
|