Boland val wéér vas, ondanks beter poging
2010-08-12
DIE gevaarligte flikker nog nie vir die Boland Kavaliers nie, ondanks hul 36-45 nederlaag teen die SWD Arende die pas afgelope naweek. Dié nederlaag was hul tweede loesing op ’n streep, nadat hulle twee naweke gelede ook vasgeval het teen OP. Die Kavaliers se afrigter, Eugene Eloff, verkies egter om eerder die positiewe raak te sien, veral met die oog op môre se tuiswedstryd teen Grens. “Teen rustyd was ons 26-24 voor en het ons reeds ’n bonuspunt gehad,” sê Eloff. “Die finale uitslag was egter nie ’n ware refleksie van die wedstryd nie. Daar was ’n groot verbetering in ons spel op ’n week vantevore.” Die feit dat die Boland 36-30 voorgeloop het, met tien minute se speeltyd oor, is ’n aanduiding van hoe naby die Kavaliers aan ’n sege was. SWD se stelskoppers het egter hul span deurgaans in die wedstryd gehou, terwyl Boland se korrelwerk nie vlot verloop het nie. “Fisies is ons beslis opgewasse, maar nou moet ons net ons koppe ook regkry en glo dat ons kan wen,” sê Eloff. Boland speel môre (Vrydag ) om 16:00 teen Grens op die Boland-stadion.
More
News
|