Plaas spog met 13 nuwe werkershuise
2010-08-12
Johan Nel
’n BEHUISINGSKOMPLEKS met dertien netjiese wonings vir plaaswerkers is verlede week op die Napier-wynlandgoed buite Wellington geopen deur die Wes-Kaapse minister van behuising, Bonginkosi Madikizela. Volgens die minister bring hierdie projek, wat die eienaars van die landgoed ’n geraamde R5,5 miljoen gekos het, ’n storie van hoop na plaaswerkers. Hy het gesê dat projekte soos dié die owerheid se hande sterk om die geweldige agterstand in behuising vinniger te begin uitwis. Die huidige agterstand in behuising in die Wes-Kaap staan tans op tussen 450 000 en 500 000 huise. Projekte soos hierdie, wat deur Michael Loubser van Napier-landgoed en sy bestuurspan aangepak is, sorg dat agtergeblewenes wat op behoorlike huise van hul eie wag, ook in die wagtyd ordentlik gehuisves kan word. Junior Burger, die algemene bestuurder van die Napier-landgoed, en Leon Bester, die landgoed-bestuurder, het gesê dat die dertien woonhuise in die kompleks huisvesting aan elkeen van die plaas se dertien werkers en hul gesinne bied. Elke huis beskik oor twee slaapkamers, ’n volledige badkamer en ’n oopplan kombuis/leefvertrek. Elke huis het ook ’n kaggel en TV-antenne. Die water word met behulp van sonpanele verhit. Een van die huise is ook spesiaal ingerig om woonplek aan vier van die plaas se afgetrede werkers te bied. Die werkers betaal nie huur nie, maar wel ’n minimumfooi wat gebruik word om die huise behoorlik in stand te hou. Die landgoed beskik ook oor sy eie onderwysfonds waaruit die skoolgelde en ander onkostes van die werkers se skoolgaande kinders betaal word.
More
News
|