KN dra vierde keer kroon
2010-08-12
Jaco van Wyk
DIT was een van daardie wedstryde wat eendag as legendaries beskou sal word, wat die 12 000 toeskouers Saterdag so hard laat brul het op die Faurestraat-stadion. ’n Drie in die laaste minuut deur Klein Nederburg Sekondêr se SA skole-speler, Lee-Roy Bitterhout, was uiteindelik die doodskoot vir New Orleans Sekondêr. KN was uiteindelik met 19-17 baas. Niemand kan egter stry dat New Orleans ’n verdienstelike wenner sou wees nie. Hulle het van meet af geswoeg en geploeg om teen rustyd ’n stewige voorsprong van 17-5 te hê. Ondanks New Orleans se reuse poging, het Klein Nederburg se manne tot die laaste minuut geveg om vir die vierde jaar in ’n ry gekroon te word as derby-kampioene. Klein Nederburg was die eerste span om agter die doellyn te gaan kuier, toe die agtsteman Carlon Carolissen ná sowat 10 minute se spel gaan druk het. New Orleans het egter soos besetenes teruggeveg en vinnig beheer oor die wedstryd geneem. ’n Drie deur die losvoorspeler Clinton Ruiters, asook ’n strafdrie, het dit laat lyk of New Orleans dié wedstryd reeds in die eerste helfte beklink het. Die tweede helfte het egter grootliks aan Klein Nederburg behoort, met ’n drie deur die stut, Farrel Cedras, wat sy span binne trefafstand gehou het. Met New Orleans steeds voor op die telbord en die tyd wat al minder begin raak het, wou dit voorkom of 2010 uiteindelik hul jaar sou wees. Tot Bitterhout in die laaste minuut besluit het om sy vlugvoetigheid ten toon te stel. Bitterhout het gewys dat daar geen teenvoeter is vir spoed nie, deur ’n briljante drie te druk wat menige verdediger in die stof laat byt het, waarna hy ook ewe gemaklik die wendoel oorgeklits het om aan sy span ’n oorwinning te besorg.
* Klein Nederburg se puntemakers was (drieë) Carlon Carolissen, Farrel Cedras en Lee-Roy Bitterhout (behaal ook twee doelskoppe).
* New Orleans se puntemakers was (drieë) Clinton Ruiters, strafdrie, (strafdoel) Damian Engledoe, (doelskoppe) Damian Engel-doe (2).
In ander wedstryde was die volgende uitslae behaal:
* RUGBY - (o.19B) NO klop KN 15-10; (o.16A) KN klop NO 13-8; (o.15A) KN klop NO 18-15; (o.14A) KN klop NO 12-8.
* HOKKIE - (o.18A seuns) NO klop KN 3-1; (o.18 meisies) NO klop KN 2-1.
* SOKKER - (o.17A) NO en KN speel gelykop 2-2; (o.15A) KN klop NO 1-0.
* BASKETBAL - (o.19 seuns) NO klop KN 22-17; (o.19 dogters) NO klop KN 18-5.
* TAFELTENNIS - (o.17 seuns) NO klop KN 4-3; (meisies) KN klop NO 4-3.
* NETBAL - (o.19A) NO en KN speel gelykop 21-21; (o.16A) KN klop NO 14-13; (o.14A) KN en NO speel gelykop 13-13.
More
News
|