EK lees die briewe in die koerant en dit val my op dat die Drakenstein Munisipaliteit heeltemal die pot mis sit.
Die Munisipaliteit weet nie meer wat hul sogenaamde “core business” is nie.
Dit is nie: ’n vermaaklikheidsorganisasie nie, ’n liefdadigheidsorganisasie nie, ’n baantjies-vir-boeties organisasie nie, ’n sokkerorganisasie nie en nie ’n dansaand en partytjie-organisasie nie.
Dit is ’n diensleweringsorganisasie met onder andere die volgende ten taak: bou en instandhouding van paaie, bou en instandhouding van water- voorsiening, bou en instandhouding van rioolverwydering, bou en instandhouding van alles wat belastingbetalende inwoners nodig het om hier te kan leef en werk.
Alle ander dinge is bysaak en kan gedoen word indien bogenoemde eers klaar gedoen is en daar nog tyd en fondse oor is.
Die Munisipaliteit moenie geld bestee op “fan parks” as daar slaggate in die paaie is nie.
Die Munisipaliteit kan nie geld bestee op oorsese besoeke as daar gebrekkige rioolverwydering is nie.
Tog sien ons hierdie dinge gebeur. Dit is dus duidelik dat die Munisipaliteit visie verloor het van wat hulle nou eintlik hier is om te doen.
Daar het ander agendas op die tafel gekom wat geen plek het in die opdragomgewing van die Munisipaliteit nie.
Daar is ’n lynregte korrelasie met die afname in dienslewering en die verpolitisering van munisipale poste.
Danksy politici is gemeenskapsbetrokkenheid, liefdadigheid en sokker belangriker as die riool, paaie en drinkwater in ons dorp. En ek sluit alle politieke groepe hier in.
Dis betreurenswaardig dat dié wat die belastingbetalers moet verteenwoordig hul eie agendas hoër ag.
Kom ons raak onstlae van die politiek en die politici en keer terug na wat ons behoort te doen.
Wellingtonner