Man ondervra na bejaarde se moord
2010-08-19
Lise Beyers
DIE polisie het ’n jong man op Ceres aangekeer in verband met die moord op ’n bejaarde vrou in Courtrai drie weke gelede. Die liggaam van Maggie Visagie (70) is ontdek nadat ’n buurman onraad vermoed het omdat hy haar nie oudergewoonte daagliks opgemerk het nie. Die polisie is ontbied en daar is op haar lyk afgekom in ’n slaapkamer van haar huis in Picardiestraat, Courtrai. Die polisie het oorspronklik vermoed dat Visagie geval het en haar kop gestamp het, maar toe die begrafnisondernemer die liggaam kom verwyder het, het hy aan die polisie uitgewys dat hy onraad vermoed. By nadere ondersoek, is ’n baksteen met bloed en hare daarop in die tuin ontdek. Die ondersoek is toe verander na dié van moord. Visagie is aan ’n kopbesering dood. Die polisie wou in verbinding tree met Adam Ockhuys, ’n straatbewoner wat gereeld tuinwerk vir Visagie gedoen het. Hy is in Ceres opgespoor, maar ná ondervraging is hy weer vrygelaat weens onvoldoende bewyse. Die polisie ondersoek die saak verder.
More
News
|