Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Baba verdrink in Mandela-swembad

Baba verdrink in Mandela-swembad
 
2010-08-19

Lise Beyers

’n TREURSPEL het afgespeel by die wêreldberoemde Mandela-huis by Drakenstein-gevangenis, toe ’n baba in die huis se swembad verdrink het.

Die voorval het Vrydagmiddag plaasgevind, toe Hailly Hermanus (20 maande) in sy pa, Melvin, ’n tronk-bewaarder, se toesig was.

Melvin het by vriende gekuier by ’n huis reg langs die Mandela-huis. Hier het die woelige Hailly met ander kinders gespeel.

Die baba se bedroefde pa het vertel dat Hailly vir koeldrank gevra het en hy het vir hom gesê dat daar koeldrank in hul motor is.

“Dit is die laaste keer dat ek hom lewend gesien het.

“Toe hy na ’n paar minute nie terugkom nie, het ek na my motor geloop. Daar was geen teken van hom nie en ek het baie angstig geraak.

“Om een of ander rede het ek dadelik gedink aan die swembad. ’n Hek na die agterplaas van die Mandela-huis was oop en ek het daardeur geloop na die swembad.

“Toe ek om die draai kom, het my ergste vrese waar geword. Hailly het doodstil op sy rug bo-op die water gedryf.”

Melvin het die lewelose liggaam van sy seun uit die water gehaal en om hulp geroep. Daar is mond-tot-mond-asemhaling op hom uitgevoer en hy het volgens ooggetuies een of twee keer gehoes.

Vriende van die familie het hom met hul motor na Paarl MediClinic geneem, maar hy is met sy aankoms daar dood verklaar.

Vrae word nou gevra oor die onvoldoende veiligheid om die huis. Daar is geen heining om die swembad nie, en hekke na die agterplaas word nie gesluit nie.

Hailly se begrafnis vind Saterdag om 09:00 vanaf die huis by Drakenstein-gevangenis plaas, en om 10:00 by die Ou Apostoliese Kerk in Wemmershoek. Hy word oorleef deur sy ouers, twee boeties en ’n sussie.

Oud-president Nelson Mandela het die laaste 18 maande van sy 27 jaar in gevangenskap in hierdie huis deurgebring, toe die tronk nog bekend gestaan het as Victor Verster.

Die huis is twee jaar gelede opgeknap en aan die Departement van Kuns en Kultuur oorhandig, wat op hul beurt die huis sou omskep in ’n museum wat oopgestel sou word aan die publiek. Maar hiervan het niks gekom nie. Drakenstein Gevangenisdiens is slegs verantwoordelik vir die instandhouding van die tuin om die woning.

* A toddler has drowned in the swimming pool of the house in which Nelson Mandela lived at Drakenstein Prison.




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za