Streekkompetisie nou in pylvak
2010-08-19
VIR die derde agtereenvolgende jaar sal daar ’n nuwe Paarlstreekliga-kampioen gekroon word, met Vineyards Rugbyklub feitlik verseker van die kroon vir die 2010 seisoen. Die streekkompetisie is egter lank nog nie verby nie en die agterosse sal hard baklei om vir die jaarlikse uitkloptoernooi te kwalifiseer, wat net ná die Streekliga plaasvind. Slegs die Top 8 spanne kwalifiseer vir deelname aan die uitklopkompetisie. Laer Paarl sal oorgehaal wees om die eerste span te word wat die uitkloptitel suksesvol verdedig, terwyl Vineyards die eerste span wil word wat beide die liga- en uitkloptitels in een seisoen kan inpalm. Die eerste ronde van die uitkloptoernooi is op 3 Oktober en die beker- en plaat semi-finale op 9 Oktober. Die beker- en plaatfinaal is Saterdag 16 Oktober te Faurestraat-stadion. Die senior wedstryde word voorafgegaan deur o.12, o.14 en o.16 uitklopwedstryde. Vanjaar sal daar ook prysgeld wees wat aan dié toernooi gekoppel word.
Die Paarlstreek bied hul jaarlikse Sewe-aan-’n-Kant Erfenisdagtoernooi aan op 24 September op die Daljosafat-sportvelde. Die dag word opgedra aan die behoud van De Kraal-sportterrein en ook om erkenning te verleen aan die legendes van Drakenstein rugby, soos Peter de Villiers, Chester Williams, Francois Davids, Pompies Williams, Randy Marinus, Thinus Linee, die Paulse broers en so meer. Alle streekklubs, asook die huidige kampioen Roses United, Wellington Rugbyklub, Young Peoples, Blue Stars (Klapmuts) en Paarl Rugbyklub, het reeds deelname bevestig. Klubs se junior spanne sal reeds van vroeg die oggend kragte meet. Vier sekondêre skole sal ook betrek word, wat aan hul eie soortgelyke toernooi sal deelneem. As deel van die rugbyklubs se gemeenskapsbetrokkenheid, sal alle inkomste aan die Rusthof-ouetehuis geskenk word. Vir verdere navrae of borgskappe, kontak die sekretaris by 082-731-4879.
More
News
|