Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Lakwerk kelder Kavaliers

Lakwerk kelder Kavaliers
 
2010-08-19

Jaco van Wyk

TE danke aan vier bonuspunte in vier wedstryde, kan Boland steeds bo-aan die Curriebeker eersteliga-punteleer eindig, ondanks drie nederlae op ’n streep.

Maar dit is juis dié bonuspunte wat ’n man so laat kopkrap. Hoe kan ’n span so skitter op die aanval, maar terselfdertyd lyf wegsteek wanneer dit tyd is om te verdedig?

Wat verlede Vrydag op ’n kol gelyk het na ’n weghol-oorwinning vir die Kavaliers oor die Grens Bulldogs op die Boland-stadion, toe eersgenoemde span vroeg in die tweede helfte met 36-21 gerieflik voorgeloop het, het uiteindelik gelei tot ’n hartseer einde vir die tuisspan.

’n Begeesterde terugvegpoging deur Grens het Boland se doppie met 50-46 geklink.

Dat Boland dié wedstryd deur hul vingers laat glip het, is geen geheim nie.

Op die aanval skort daar niks. Met die bal in die hand was Boland strate beter as hul opponente en het hulle die lyn heeltyd oopgevlek.

Dit is eerder Boland se verdediging wat tans nie op standaard is nie.

“Ek het met Jacques Nienaber (WP se verdedigings-afrigter) gesels en hy het gesê dat dit drie jaar geneem het om WP se verdediging te kry waar dit vandag is,” sê Loffie Eloff, Boland se direkteur van afrigting.

“Enige span gaan deur so ’n tydperk. Ons moet nou net harder werk om daardie wenmomentum te herstel, wat ons vroeër vanjaar in die Vodacombeker gehad het.”

Eloff erken hy was vandeesweek hard op sy span. Hulle sal dié naweek sake wil regstel teen die Griffons in Welkom.

Eloff erken egter ook dat die span vanaf gebroke- en fase spel, briljant vertoon het.

Selfs die kleinste gapings is deur manne soos Jacquin Jansen (heelagter), Bolla Conradie (skrumskakel) en Willie le Roux (losskakel) uitgebuit.

Boland het altesaam 6 drieë gedruk, waarvan 4 behaal is vanaf omgekeerde besit.

Cornal Hendricks het drie keer agter die doellyn gaan kuier.

Ondanks sy geelkaart was Braam Immelman ook ’n yster vir die tuisspan, op die aanval asook op die verdediging. Boland het ook hul opponente laat klippe kou in die skrums.

Grens verdien egter ’n klop op die skouer vir hul terugvegpoging.

Puntemakers: Boland - 46 (26). Drieë: Franzel September, Cornal Hendricks (3), Jeremy Plaatjies, Lionel Cornelius. Doelskoppe: Jacquin Jansen (4), Cornelius (1). Strafdoele: Cornelius (2).

Grens - 50 (21). Drieë - Ross Doneghan, Nomani Tonga, Bonga Mntunjani, Logan Basson, Luvuyo Mhlobiso, Matthew Tajard. Doelskoppe - Jeffrey Taljard , Logan Basson (3). Strafdoele - Jeffrey Taljaard, Logan Basson (3).

Boland se span is onveranderd gelaat vir môre (Vrydag) se wedstryd teen die Griffons in Welkom.



More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za