EK verwys na die onlangse berig oor ’n ongeluk in Jan van Riebeeckweg, Paarl, waarby ’n vragmotor van Anderson Transport betrokke was.
Die Paarl Post het die indruk gegee dat die ongeluk veroorsaak is deur ’n vragmotorbestuurder van ons maatskappy.
Ek wys net daarop dat, volgens die bestuurder van die vragmotor, hy geensins bygedra het tot die botsing teen ’n private motor nie.
Inligting dui daarop dat die bestuurder van die BMW op sy selfoon besig was, en oor die middel van die pad beweeg het tot voor ons vragmotor, waarna die botsing plaasgevind het. Daarna het die vragmotor geswenk en die pad verlaat.
Die Paarl Post se bewering dat ons bestuurder “beheer oor die voertuig verloor het”, en daarna die motor getref het, is ongegrond.
Ons beskou die aangeleentheid in ’n baie ernstige lig en om daardie rede het ons ’n rekonstruksiespesialis aangestel om die ongeluk te ondersoek.
Foutiewe beriggewing soos hierdie doen ons beeld groot skade aan.
Heimer Anderson
Direkteur Anderson Transport