EK het simpatie met die brief “Hoekom skuif die liggiesfees?” Dit ruik vir my na politiek en in die politiek word selfs godsdiens nie ontsien nie.
Die Liggiesfees was aangebied met die oog op Kersfees, maar die Christelike tema is vervang met strokieskarakters uit die filmbedryf. Ek het dit twee jaar gelede voorspel en dit is wat nou gebeur.
Carols by Candlelight word op ’n mooi manier op die agtergrond geskuif en sal oor ’n jaar ook iets van die verlede wees.
Elke jaar word die fees aangebied met dieselfde afgewaterde aktiwiteite. Daar is geen doelgerigte, entoesiastiese beplanning nie.
Ons infrastruktuur is reg, maar ons maak nie ons gemeenskap sosiaal betrokke nie.
Ek stel voor dat die fees soos gewoonlik in die middedorp begin en ná dag twee verskuif na Paarl-Oos. Vanaf Lady Grey-straat tot in Paarl-Oos kan die liggiesfees tot sy volle potensiaal kom.
Dit kan begin word met duiwe wat losgelaat word en ’n jazzorkes buite plaaslike jazz-klubs. ’n Fietswedren kan plaasvind wat die gesinsdagsportbyeenkoms vooraf gaan.
So kan ons opbeweeg in Klein Drakensteinweg waar verskillende aktiwiteite kan plaasvind.
By die swemklub kan ’n swemgala gereël word.
Die verskillende kerke wat teen die paaie geleë is kan etes op verskeie aande aanbied.
’n Opvoering deur karateklubs kan ook plaasvind en wat van ons nooi ’n paar Springbokke? ’n Babakompetisie en selfs ’n gesinsfotokompetisie kan gereël word. Wat van die uitstalling van motors?
So kan die lys aangaan sonder dat daar telkemale terug geval word na ’n Rasta-band om die musiek te verskaf soos dit elke jaar die geval is.
Laat ons wegbeweeg van ‘n liggiesfees waar daar geen attraksies is nie. Kinders en selfs grootmense moet opgewonde raak en selfs uitsien na die volgende jaar. Alles kos geld, maar waar het die geld vandaan gekom vir die wêreldbekersokkertoernooi? Ons munisipaliteit het nie ’n verskoning om nie vir hul belastingbetalers die beste op te dis nie.
Mario Matthews