Honde keer tevergeefs
2005-03-17
Malané Bosman
VIER kwaai rifrughonde kon Dinsdag nie verhoed dat ’n vrou van Wellington in haar woning vermoor word nie.
Wanda Neethling (48) van die kleinhoewe Lowanee aan Lady Lochweg, is voor agtuur in haar motorhuis oorrompel.
Sy is vermoedelik van agter vasgegryp, en met ’n breëlem-mes in die hart gesteek.
“Sy sou nie stilgestaan het nie,” het vriendin Ronel van Coller gister gesê.
“Wanda was so fiks en so sterk. Sy sou baklei het.”
Al verduideliking oor hoekom haar vier getroue honde, Max, Sam, Abby en Mila, nie soos elke ander minuut aan haar sy was nie, was dalk die skoot wat werkers kort voor die moord gehoor het.
“Die honde was bang vir geweerskote, en die mans wat die oggend by haar motorhuis was, het dit sekerlik geweet. Hulle het voorheen vir haar gewerk,” het buurman Heinie Hickman gesê.
Dit lyk asof daar ’n struweling was, voordat Wanda met die mes gesteek en met ’n stofsuierkoord vasgebind is. Die motorhuisdeure is van binne toegemaak. “Dis beslis toé dat die honde by Wanda uitgekom het,” het ondersoekers gesê.
“Altwee die verdagtes het bytplekke en hulle is sonder enige buit daar weg, al was die kluissleutel binne bereik.”
Wanda se werkers, wat die skoot gehoor en die mans opgemerk het, het alarm gemaak.
’n Werkvoorman het gesien hoe ’n bloedplas onder die toe motorhuisdeur uitsypel.
Polisiebeamptes en forensiese deskundiges was vinnig op die toneel. Afdrukke van drie paar sportskoenspore op die grondpad uit die kleinhoewe, het hul aandag getrek.
’n Buurman kon ’n goeie beskrywing gee van twee van die verdagtes. Speur-Insp Moos Klein het die twee jong mans - een met bloed aan die broek en die ander met bebloede tekkies - by die Wellington gholfbane opgemerk.
Bystand is ontbied en binne twee uur ná die moord was twee verdagtes van Mbekweni, in aanhouding.
Wanda was ’n Boland-muurbalspeler en Wellington klubkampioen. Sy en haar man, Louis, het jare lank in Agter-Paarl met gras en perde geboer.
Wanda het sowat twee gelede die vyf hektaar Lowanee kleinhoewe in ’n lushof met grasperke, bome en damme omskep en die woning gerestoureer. Sy het met ’n boomkwekery begin en landskapontwerp gedoen.
Sy is verlede jaar van haar man, Louis, geskei. Hy woon nou in Durbanville.
Hul kinders, Rudi (25) en Leske (24), werk in Spanje. Hulle land vandag in Kaapstad nadat hulle van hul ma se dood in kennis gestel is.
“Dit sal vir hulle baie erg wees,” het ’n vriendin gesê. “Hulle was sulke goeie maats en het nog saam branderplank gery en berg geklim.”
Bure en vriende het Dinsdagoggend verdwaas voor die hekke na die kleinhoewe saamgedrom, met die moord van Lisbé Smuts in haar woning op die dorp vyf weke gelede vars in hul geheue.
Ook Smuts se vermeende moordenaar was binne twee uur ná die aanval in hegtenis.
“Wanda was so ’n wonderlike, lewenslustige persoon.
“Ons praat al lankal daarvan om ’n hek by die ingang na die kleinhoewes aan te bring,” het ’n buurman gesê.
“Wanda was vreeslik lief vir haar vier rifrughonde en het altyd gesê haar honde sal niemand naby haar laat kom nie.”
* Two men on bail for attempted murder, have been arrested for the murder of a woman on a Wellington smallholding.
More
News
|