Besoek pragtuine
2005-09-29
GENIET ’n ontspanne dag aan die voet van die pragtige Groenberg wanneer die Wellington Tuinbouklub vanjaar vier pragtuine, ’n Jonkershuisie en ’n private wynkelder aan die publiek oopstel vir ’n blommefees wat besoek kan word elke dag van 27 tot 29 Oktober (09:00 tot 17:00).
Die koste is R30 per persoon vir die dag en kinders onder 12 is gratis. Tien persent van die winste gaan aan liefdadigheid.
’n Teetuin word by “Bovlei House” aangebied en ’n marktafel sal allerhande tuisgemaakte goedere en plante te koop bied.
Kaartjies met ’n roetekaart is verkrygbaar by Basson Skoene te Kerkstraat 41, Wellington en van 27 tot 29 Oktober (tydens die Stokkiesdraaifees) buite die Wellington Museum in Kerkstraat, Wellington.
* Tuin 1 is ’n groen oase in die hartjie van die dorp. Hier leef duiwe, eende, skilpaaie, poue, kolvisse en troeteldiere almal saam in harmonie. Langs die visdam verwelkom die engeltjies jou en tussen die struike sal jy miskien ’n feetjie sien wegkruip. Baie inheemse plante word in die tuin gebruik. Talle troufoto’s is hier geneem en die tuin het al baie tuinboukompetisies gewen.
* Tuin 2 is ’n plaastuin in die Bovlei-omgewing en is vier jaar gelede hervestig. Die tuin is formeel met informele beddings met baie eksotiese plante en rose wat die woning komplimenteer. Die kruie en groentetuin vorm deel van die tuin en aan die voorkant van die huis is daar ’n koidam.
* Tuin 3 is ook ’n plaastuin in die Bovlei-omgewing. Hierdie pragtige, ou Engelse tuin met inheemse en eksotiese plante is al in verskeie tydskrifte gepubliseer. Die plaasdam met gazebo aan die voet van Groenberg is iets wat niemand mag misloop nie.
* Tuin 4 is op ’n plaas van 300 jaar oud. Besigtig die plaas waar vroue aan die bestuur is. Die ou Jonkershuisie is gerestoureer in ’n gastehuis waar baie bruide hul wittebrood deurbring. Die wyn van die plaas word van wingerd tot bottel alles met die hand geprosesseer.
* Tuin 5 is ’n formele plaastuin in die Lady Loch-omgewing wat ’n rustige atmosfeer bied aan almal wat daar deurloop. Die plante is gekies om balans en ritme te skep aan die tuin. Kruie en rose is nie net in die groentetuin gebruik nie, maar ook in die formele beddings om ’n tikkie ou Engelse styl aan die tuin te verleen.
Bel Charmaine Theron by 873-4858 of 084-623-7422 vir navrae.
More
News
|