KOOS KOMBUIS en Nicole Holm is op 27 Augustus om 20:00 in die Bôrdienghuis-teater op Wellington te sien in die produksie Vry voël.
Koos Kombuis het sy bekende oeuvre onlangs uitgebrei en effe wegbeweeg van die politieke kommentaar en sinisme van sy vorige album “Bloedrivier”.
Met sy nuwe werk raak hy persoonlike kwessies aan en lewer hy ’n intieme blik op sy drome, sy vrese, dit waarin hy glo, dit waaroor hy spyt is en dit wat hom verbly.
Hierin opgesluit lê die drome, vrese, geloof, berou en vreugdes van elkeen wat daarna luister.
Nicole Holm is ’n bekende aktrise en sangeres wat onlangs in Binnelanders te sien was. Oor haar betrokkenheid by Vry voël skryf Koos Kombuis skertsend: “Wat is ’n “glanspersoonlikheid”? Wat staan ’n Afrikaanse sanger te doen as hy wel die persoonlikheid het, maar nie die glans nie? Hy vra iemand met genoeg glans vir twee om langs hom te glinster!”
In hierdie vertoning sal dit nie moeilik wees om te sien wie die “glans” verskaf nie; dit is Nicole Holm, wat met haar kragtige stem en verhoogpersoonlikheid ’n nuwe dimensie verskaf aan die Koos Kombuis solo-vertonings wat ons die afgelope klompie jare leer ken het.
Die kroegstoel en die bottel rooiwyn sal nog steeds daar wees, die hardebaard-lirieke en eenvoudige kitaarklanke, maar hierdie keer is daar ook iets vir die oog, om nie van die kritiese oor te praat nie.
Vry Voël is vanjaar deur resensente beskryf as een van die hoogtepunte by die afgelope KKNK.
Kaartjies is R100 en kan bespreek word by Magdel Kemp by 072-115-2913 of by teater@breytenbachsentrum.co.za.