Ma van vier pak haar vrese kaalhande aan!
2010-08-26
Liezl Dyson
AMANDA MOSTERT se lewe het 24 jaar gelede drasties verander toe twee mans met balaklawas haar in haar huis in die klein dorpie van Hectorspruit verkrag het. Vir 24 jaar was Amanda sterk om haar kinders se onthalwe. Sy besluit om aan te gaan met haar lewe en die vrees wat sy ná die verkragting met haar saamgedra het vir die wêreld weggesteek. Augustus 2010 was egter die keerpunt, vir dié voormalige slagoffer, toe sy besluit het om ten volle ’n oorwinnaar van die wrede voorval te wees en in die proses ook ander te help. Amanda vertel hoe sy ná die verkragting onmiddellik haar gevoelens verberg het, want “niemand moet weet hierdie kinders se ma is verkrag nie.” Sy vertel hoe sy eers ’n maand ná die verkragting vir die polisie daarvan vertel het omdat sy dit nie meer kon hou nie, hoe sy later haar man verloor het, hoe mense in die dorp haar soos die pes vermy het, hoe dit haar kinders geraak het en hoe sy in ’n depressie verval het. “Die ondersteuning was swak, omdat mense nie weet hoe om dit te hanteer nie.” Amanda het egter sterk gestaan en ’n sukses van haar lewe gemaak en drie kinders grootgemaak. “Ek het Kaap toe getrek, my kinders het begin skool gaan en 24 jaar later het ek vir myself gesê al wat oorbly, is die vrees vir ’n balaklawa.” Haar kinders het nooit beanies gedra nie, die woord balaklawa het sy nooit genoem nie en sy kon nie na een kyk nie. “Ek het gedink ek het net nodig om ’n balaklawa te koop en ek sal okay wees, maar toe ek dit onlangs doen, het alles teruggekom van daardie dag. Dit was baie swaar, maar ek het besluit ek moet dit in die gesig staar.” Sy vertel dat dit chaos was toe sy vir die eerste keer ’n balaklawa vas- hou. “Ek was histeries, hartseer en kwaad, want hoekom het julle dit aan my gedoen. Ek het onthou hoe hulle my met die mes steek en hoe hulle my wurg, maar ek het veiliger gevoel hierdie keer, want ek is tussen mense wat vir my omgee, wat by my staan en wat my ondersteun.” Amanda wil nou juis dié geleentheid gebruik om ook ander mense wat deur trauma gaan, te help met haar Balaklawa-projek. Nou maak Amanda helder, vrolike balaklawas wat sê: “Ek kan!” Die balaklawas het ook ’n bemagtigings-boodskap daarby: Ek is ’n vrou met styl! Ek is niks of niemand se slagoffer nie! Ek is enig in my soort en met God se hulp, kan ek! Volgens Amanda is dié balaklawas vir enigeen wat deur enige soort trauma gaan, om hulle te bemagtig. Amanda het reeds 200 balaklawas uitgedeel, met die borgskap van talle plaaslike besighede, van koekwinkels, haarkappers tot werktuigkundiges. Met hierdie projek beoog Amanda om die balaklawa-projek ’n nasionale simbool van hoop te maak vir vroue, maak nie saak deur watter soort trauma hulle gaan nie. “Ons is nou in 2010 en mense praat steeds nie openlik oor verkragting nie. Mense moet begin leer hoe om dit te hanteer.” Amanda is reeds deur verskeie organisasies genooi om as spreker op te tree. Sondag hou die Taalmuseum hul Vrouedag by Bethel Congregational Kerk , waar sy een van die vele sprekers sal wees. “Ek is selfs by die punt, dat ek voel as ek 24 jaar gelede deur die hel van ’n verkragting moes gaan, om nou ’n positiewe verskil te maak, dan is dit goed so.” Indien jy weet van iemand wat deur trauma gaan, kontak Amanda Mostert by 082-334-2954 of 082-957-6707.
More
News
|