Roses takel Wesbank in Premierliga-‘eindstryd’
2010-08-26
ROSES UNITED pak eerskomende Saterdag die span van Wesbank op Wellington in ’n maak of breek wedstryd, wat na alle waarskynlikheid gaan bepaal wie vanjaar die kroon gaan dra as die kampioen van die Boland Premierliga. Die wenner gaan boonop die Boland Rugbyunie verteenwoordig by die Nasionale Klubrugbykampioenskappe, wat vanjaar vanaf 18 tot 25 September op Stellenbosch aangebied word. As gevolg van die opgradering van Pelikaanpark, word die wedstryd teen Wesbank op die Boland-B veld in Wellington beslis. Wesbank beklee tans die eerste plek op die punteleer met 66 punte. Die Rose, wat in hul nek blaas met 63 punte, het egter twee wedstryde minder as Wesbank gespeel. Wesbank moet dus Saterdag wen om sodoende die druk op Roses te hou, aangesien laasgenoemde nog ’n maksimum van 10 punte kan insamel in sy oorblywende twee wedstryde. Die stryd teen Roses is Wesbank se laaste wedstryd en hy kan dus slegs 5 ligapunte insamel. Vir die Rose is dit ook van kardinale belang om Saterdag te wen aangesien sy oorblywende twee wedstryde beide weg is, teen Abbotsdale en Robertson onderskeidelik. Sowel die Rose as Wesbank is bekend vir hul aanvallende benadering en veral die agterste verdedigingslinies van beide spanne sal tot die uiterste beproef word. Die Rose se verdediging in hulle laaste twee wedstryde was egter van hoogstaande gehalte. Voorlangs sal die Rose se aanslag weer gelei word deur sy twee ysters, Ignatius Korabie (kaptein en agsteman) en Shane Jacobs (slot). Agter beskik die Rose ook oor genoeg vuurkrag, met veral Wayne Matthee (binnesenter) en Justin Morgan (regtervleuel) wat hul opponente hoofbrekens kan besorg. Sifiso Mgaga (linkervleuel) behoort ook die besoekers te laat bontstaan met sy kraglopies. Roses se gereelde linkervleuel, die blitsige Brandon April, mag as gevolg van provinsiale verpligtinge nie Saterdag vir die Rose uitdraf nie. Toeskouers kan hulle egter klaarmaak vir ’n opwindende wedstryd, aangesien dit eintlik neerkom op ’n ‘eindstryd’ om die Boland Premierliga-titel. Hekke open om 10:00. Ná afloop van die wedstryd, hou Roses ’n dansparty by Club 30 Plus. Deure open om 20:00. ) Intussen het die Rose verlede Saterdag vir Black Leaves op Gansbaai met 25-20 geklop. Voorlangs het die Rose se agttal die tuisspan met goeie rolmaalbewegings teruggedryf, met Sandile Sijaji (vaskopstut) en Neels Ackermann (loskopstut) wat prominent vertoon het. Die Rose se agterlyn het ook goed vertoon, met Justin Morgan, Sifiso Mgaga, Gabby Sherman en Percival Williams wat elk ’n drie gedruk het. Wayne Matthee was in die kol met ’n doel- en strafskop.
More
News
|