Pniel stoomroller oor Tygerberg
2010-08-26
GESKIEDENIS is Saterdag gemaak toe Pniel Villagers vir die eerste keer ooit daarin kon slaag om Tygerberg op sy tuisveld te klop. Wat dié oorwinning nog meer indrukwekkend maak, is die rekord-eindtelling van 54-38, wat opgestel is. Die besoekers het van die afskop af die pap dik aangemaak en die eerste van agt drieë is reeds in die eerste minuut van die wedstryd gedruk, ná ’n goeie breekslag deur die slot Radley Lackay. Die bonuspunt vir vier drieë is reeds voor rustyd verseker, met die rustydtelling 27-16. Alhoewel die Tiere met ’n verwoede aanslag in die tweede helfte gekom het en die telling middeldeur dié helfte op 34-33 te staan gebring het, het hulle stoom gou opgeraak en die Pniel manne kon ’n verdere 20 punte opstapel. Die grondslag vir dié oorwinning was weer eens gelê deur Pniel se lostrio, met Charlston Williams aan die spits. Hy was goed ondersteun deur Fernando Adams, wat die toekenning ontvang het vir speler van die wedstryd. Garland Alberts was ’n yster in die vastelos terwyl die regtervleuel Gavin Petersen ’n doring was in die vlees van die tuisspan. Petersen het ’n driekuns aan drieë behaal. Villagers se agterlyn het met elke moontlike goeie bal probeer aanval en op verdediging het hulle geweldige druk op die Tiere geplaas. Dié wedstryd was beslis een van die hoogtepunte van die seisoen vir die manne van Pniel, wat die skare met opwindende rugby getrakteer het. Pniel se puntemakers was (drieë) Eugene Francis, Charlston Williams, Gavin Petersen (3 drieë), Enrico du Preez, Stefanus Cedras (behaal ook 4 doelskoppe en 2 strafdoele).
Eerskomende Saterdag speel Pniel hul voorlaaste wedstryd tuis teen Hands and Heart.
More
News
|