Deurbraak met diewe
2005-09-29
’n SPESIALE ondersoekspan van Paarl-Oos polisie woel onder die inbrekers in die buurt.
Die ongekende vlaag inbrake wat Paarl-Oos twee maande gelede getref het, was die motivering vir die span.
Verlede week het speurhoof Jayson Cyster en die span, insp Danny Jansen, konst Johny Fredericks en konst Neville Sass by ‘n woning toegeslaan waar gesteelde goedere ontvang en gestoor word.
Beslag is gelê op eiendom van honderde duisende rande.
Gesteelde DVD-spelers, videomasjiene en kameras, tot verkykers, afstandbeheertoestelle, selfone, tuisteatertoestelle, rekenaartoerusting, alarmstelsels, klerasie, kraggereedskap, juweliersware en drank is teruggekry.
Stephen Benn, die eienaar van die smokkelwoning te Nuwestraat, is in hegtenis geneem en aangekla van die besit van gesteelde eiendom.
Mense by wie onlangs ingebreek is, kan met insp Ester van Schoor by Paarl-Oos (862-5617) in verbinding tree vir die uitkenning van hul eiendom.
Dit is belangrik om die reeksnommers van ware byderhand te hê, maan stasiekommissaris supt Gerda van Niekerk.
“Die ontvangs en besit van gesteelde eiendom is ‘n kriminele oortreding en strafbaar deur die wet.
“Laat ons ‘n veilige tuiste skep vir die gemeenskap deur nie misdadigers te ondersteun en gesteelde goedere aan te koop nie,” het supt Van Niekerk gesê.
Sondagaand het ‘n gesin van Magnoliastraat skade van R68 000 gelei - waaronder ‘n .38 special rewolwer - toe inbrekers ‘n kombuisvenster uitgehaal het.
Die vuurwapen en R12 000 kontant was in ‘n kluis in ‘n kas. Die kluis is weggedra, saam met elektroniese apparaat, naaimasjiene, kraggereedskap, juweliersware en klerasie.
“Wees altyd bewus van wat om u aangaan en slaan ag op honde wat buitengewoon blaf,” waarsku die polisie.
Enigiemand met inligting kan die huisbraakondersoekspan skakel by 807-4000 of 862-1040. Die polisie se algemene noodnommer is 1-0111.
* The police have launched a special burglary task force in Paarl East.
More
News
|