Toekoms van kolleges duister
2010-08-26
Anne Kruger
DAAR heers groot kommer oor die toekoms van twee plaaslike kolleges, Hugenote Kollege en Boland Kollege. Boland Kollege se aanbod van naskoolse kursusse word van volgende jaar teruggesny weens die opskorting van regeringsubsidies landwyd vir sulke kursusse, en personeel wat op kontrakbasis klasgee, loop nou gevaar om hul poste te verloor. Kursusse wat geraak word sluit in die meer gevorderde naskoolse kursusse (N4-6) in toerisme, spyseniering en bestuurskursusse wat by die Paarl-kampus aangebied word. Sowat agt personeellede word geraak, meen kampushoof Iwan Hartman. Die Hugenote Kollege se toekoms is ook duister, nadat die Universiteit Stellenbosch verplig was om sy steun aan kursusse op dié kampus op te skort. Dié kollege op Wellington het in 1951 sy ontstaan gehad as opleidingsinstansie vir kerkamptenare en sendelinge en later maatskaplike werkers en staan steeds onder beheer van die NG Kerk. Hul kursusse was sedert 1975 deur Unisa geakkrediteer, maar dié verbintenis is in 2007 beëindig deur verandering in wetgewing. Die kollege het daarna, in 2008, ’n voorlopige samewerkingsooreenkoms met US beding, maar die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding het nou daarvoor ook ’n stokkie gesteek. Hulle het toestemming vir ’n vennootskap tussen die US en HK geweier, aangesien so ’n vennootskap sou beteken dat ’n private instelling ’n sentrum van openbare onderwys sou word. Huidige hoër onderwysbeleid maak nie voorsiening vir sulke vennootskappe nie, tensy Hugenote Kollege bereid is om by die Departement vir Hoër Onderwys te registreer as openbare instansie. Die kollege het tot dusver versuim om dit te doen. Prof Julian Smith, vise-rektor van die Universiteit Stellenbosch, het sowat 200 studente in maatskaplike werk en gemeenskapsontwikkeling verlede week by die kollege op Wellington toegespreek oor hul toekomstige akkreditasie. “Die Universiteit Stellenbosch aanvaar volle verantwoordelikheid vir sy studente by die Hugenote Kollege en sal voortgaan om hul belange in alle besluite en aksies op die hart te dra. “Ons sal ons bes doen om hul voortgesette studies te verseker en om die nodige ondersteuning te voorsien om hulle deur hul onderskeie akademiese kursusse deur te sien. Hierdie onderneming het ons ook aan die Minister van Hoër Onderwys en Opleiding, dr Blade Nzimande, oorgedra,” het prof Smith Donderdag gesê. Op grond van verdere versoeke deur die Universiteit, het die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding vir Hugenote Kollege as ’n addisionele plek van aanbieding vir drie US-programme vir die duur van 2010 goedgekeur. Die Hoër Onderwys Gehaltekomitee (HOGK) het drie US-programme wat deur Hugenote Kollege in 2010 aangebied word, geakkrediteer: naamlik BA in Maatskaplike Werk, BA in Gemeenskapsontwikkeling en die Hoër Sertifikaat in Gemeenskapsontwikkelingpraktyk. Die ooreenkoms tussen die US en HK kom op 31 Desember vanjaar tot ’n einde. “Ten spyte van hierdie terugslag sal die Universiteit Stellenbosch doelgerig voortgaan om alle moontlike opsies te ondersoek om ons kundigheid en bronne in te span om ’n bydrae tot landelike ontwikkeling te lewer,” het prof Smith gesê. Die US se aanbod aan die studente behels dat vanjaar se studies erken word, maar dat hulle van volgende jaar op Stellenbosch moet studeer vir graaddoeleindes. Diplomastudente kan klaar studeer by HK. * There is concern about the future of Huguenot College and Boland College.
More
News
|