Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Stink storie

Stink storie
 
2010-08-26

Lise Beyers

BYNA oornag het Wellingtonners wakker geskrik met ’n aardige klankie wat deur die lug trek.

En dit was nie die herlewing van die ou leerlooiery wat destyds veroorsaak het dat Wellington ‘Smellington’ herdoop is nie. Hierdie keer is die skuldige party ’n rioolretensiedam wat deur die Drakenstein Munisipaliteit aangebring is in Stokeryweg, naby die Bergrivier.

Nie net is die dam ’n geweldige oogseer nie, maar inwoners en werkers van die gebied, asook lede van die Wellington Gholfklub op wie se drumpel die dam gebou is, kla oor die stank wat veroorsaak word deur die dam.

Maar bowenal, hou die dam ’n geweldige gevaar in om die Bergrivier nog verder te besoedel.

En tans word daar juis ’n saak van waterbesoedeling deur Wellington polisie teen die kontrakteur ondersoek wat deur die Munisipaliteit aangestel is om die retensiedam oop te stoot, nadat rioolwater in die Bergrivier beland het.

Hierdie dam is deur die Drakenstein Munisipaliteit aangebring weens die onvermoë van die Pentzstraat rioolpompstasie om rioolwater te hanteer. Oortollige riool en stormwater loop na die retensiedam, waar dit behoue bly totdat dit teruggepomp kan word na Pentzstraat rioolpompstasie en vandaar na die suiweringswerke.

Intussen word die rioolpompstasie en stygleiding opgegradeer om aan die groeiende aanvraag na rioolfasiliteite te voldoen.

Volgens die Munisipaliteit is die opgradering juis om die risiko van besoedeling in die area te verminder.

Hierdie dam is tydelik van aard totdat ’n omgewingsgoedkeuring vir die permanente werke verkry kan word. Die permanente struktuur word daar naby beplan, verder bo die vloedwaterlyn.

Maar inwoners van Wellington bly bekommerd oor die impak van die retensiedam op die omgewing.

Daar word hardop gekla dat die retensiedam, wat langs die besigste deurpad in Wellington is, ’n vlek is vir die reputasie van die dorp.

Verlede week het verteenwoordigers van ’n Wellingtonse belangegroep, Albertus Buckle (DA raadslid), Eugenie Wiggins en dr Thys Smit, samesprekinge gevoer met die Munisipaliteit om antwoorde te vind vir hierdie probleem.

Buckle sê dat daar tien jaar gelede reeds duidelike aanduidings was dat die Wellingtonse rioolwerke opgegradeer moes word.

“Maar toe die verskillende munisipaliteite onder die Drakenstein-sambreel saamgesmelt het, was daar skielik nie meer geld hiervoor nie.

“Dus het die rioolstelsel deur die jare al hoe meer agteruitgegaan, en nou sit ons met ’n krisis.

“Die saak het dringende aandag nodig. Dit het ’n negatiewe impak op die omgewing en moet uit die oog van die publiek uit.”

Smith het bygevoeg dat die Wellingtonse belangegroep saam met die Munisipaliteit wil werk om hierdie kwessie op te los.

Besoedeling van die Bergrivier bly ’n tameletjie. Dit het geweldige negatiewe implikasies vir die plaaslike ekonomie, weens die feit dat die buitelandse mark, waarheen baie varsprodukte uitgevoer word wat aan die oewers van die Bergrivier gekweek word, streng wette het oor die kwaliteit van varsprodukte.

’n Retensiedam, soos dié naby die Bergrivier, moet dus uiters goed beplan en deurdink word, juis om te vermy dat die Bergrivier maar net nog ’n inlaatklep vir vullis bykry.

* A temporary sewage dam near the Berg River has caused an outcry in Wellington.




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za