LIEWE Basie en Miesies, baie dankie dat julle ons as viervoetige kinders in jul huise geneem het. Baie dankie vir kos, water en slaapplek wat julle vir ons gegee het deur die jare.
Wat ons nie verstaan nie is die volgende:
* Hoekom het julle ons aangeneem toe ons klein was en elke dag vertroetel met liefde, gesorg dat ons veilig grootgeword het en elke aand gesorg dat ons veilig in ons slaapplekke kom met genoeg water en kossies? Was dit omdat ons klein en oulik was of net nog ’n speelding vir die kinders? Iets waarvoor hulle moes leer om op te pas en te versorg?
* Nou is ons groot en het sekere drange, nes mense, maar nou gee julle glad nie meer vir ons om nie. Want die erf en huis waarin ons bly is glad nie troeteldiervriendelik nie. Ons kan gaan en kom nes ons wil. Die heining kan ons nie binne hou nie en Flaffie gaan elke nag by die badkamervenster uit net soos sy wil en wanneer sy wil. Julle laat die venster juis oop sodat sy kan kom en gaan wanneer dit haar pas.
Hulle sê juis dat katte nie ’n baas het nie, net ’n slaapplek en eetplek in die dag, maar saans is sy al die bure s’n. Niemand mag kla nie, want katte kan nie beheer word nie.
Wat is die verskil tussen ons en jou twee dogters? Jou dogters het sekere tye wat hulle tuis moet wees en as hulle nie betyds terug is nie, is die duiwel los.
Terloops wie is die duiwel? Jy of die Miesies?
Jou seuns het ook tye om terug te wees, want hulle kuier weer by ander mense se dogters. Dit is logies. So, hulle word beskerm, maar ons kan gaan en kom soos ons wil en wanneer ons wil. Is julle vir hulle liewer as vir ons? Flaffie vertel juis vir my dat Augustus-maand katte-maand is. Weet nie wat sy bedoel nie, want vir my is elke dag honde-dag.
* Ek weet nie hoekom dit so is nie, maar ons mors nie op julle gras nie, maar gaan na Oom Marius se erf in Van der Merwestraat 26. Wat ek egter nie weet nie is hoekom hulle elke oggend ons bollies optel met suur gesigte. Ons merk ook dat hulle nie viervoetige kinders op die erf het nie en dan gooi oom Marius vir ons met klippe.
Hy sê ook dat as hy ’n geweer gehad het hy sou geskiet het.
Ek het al gehoor van vriende wat geskiet is, maar ek weet dat vriende wat geskiet is se Basies en Miesies nie baie gelukkig was nie. Hulle word baie kwaad en praat van Dierebeskerming toe gaan.