n SPLINTERNUWE ontwikkeling by KWV se produksiefasiliteite in Paarl is pas bekend gestel – en dit het niks te doen met wyn of brandewyn nie.
Die maatskappy se eerste roomlikeur-produksiefasiliteit is pas geloods as die begin van ’n nuwe KWV portefeulje inisiatief.
Wild Africa Cream is gedurende Februarie 2010 deur KWV oorgeneem, terwyl die inrigting van die nuwe fasiliteite kort daarna gevolg het. Die amptelike opening is verlede week gevier.
KWV is reeds verskeie jare verantwoordelik vir Wild Africa Cream se bemarking en verspreiding, maar sedert die oorname, besit KWV nou die handelsmerk in sy geheel.
KWV se besluit om Wild Africa Cream oor te neem is gedeeltelik gemotiveer deur die handelsmerk se impak op internasionale markte vir die afgelope vyf jaar, asook die handelsmerk se sterk neiging tot Afrika-trots.
Dié eksotiese roomlikeur word verpak in ’n aanloklike “luiperdvel” baadjie.