VANJAAR se Kelderwerker van die Jaar is Adam Alexander van Rupert & Rothschild.
Hy is verlede Vrydag tydens ’n inligtingsdag by Delvera, net buite Stellenbosch, aangewys.
Gedurende die 2010 program was daar ’n totaal van 145 deelnemers wat deelgeneem het, almal mense wat verlede jaar presteer het in die streekskompet- isies.
Die SA Kelderwerker van die Jaar Program word deur Wynkelders Suid-Afrika (WKSA) en Winetech befonds. Die program poog om erkenning te gee aan alle permanente kelderwerkers werksaam binne die Suid-Afrikaanse wynbedryf.
Die doel van die projek is om rolmodelle vir kelderwerkers te vestig en om sodoende nie net produktiwiteit nie, maar ook gesonde verhoudings aan te moedig en ook die oordrag van kennis te bevorder.
Die 36 kandidate, uit die verskillende streke, moes ’n wynproe aanbied en tegniese vrae beantwoord oor wynbereiding.
Vanjaar het 16 kandidate na die derde ronde deurgedring, waar hulle aan die paneel ’n voorlegging van vyf minute moes doen oor enige onderwerp in die wynbedryf, wat hulle self nagevors het en voorberei het.
Kandidate het onder andere gepraat oor die voordele van kurkproppe versus skroefsluitings en appelmelksuurgisting.
Daar is ook aan hulle ’n wyn gegee waar die karaktertrekke geïdentifiseer moes word, soos byvoorbeeld vlugtige suur, hout en suiker.
Daar is afgesluit met ’n inligtingsdag waar aan die kelderwerkers die geleentheid gegee is om kennis uit te ruil, en lesings en aanbiedings by te woon.