Seun in lykhuis gevind
2005-09-29
DIE liggaam van ’n 24-jarige Paarliet wat byna twee maande vermis is, is in die lykhuis by die Tygerberg Hospitaal opgespoor.
Jonathan Prins is op 29 Julie saam met vriende na Kaapstad, toe hy verdwyn het. Hy is op die N1 raakgery toe hy vermoedelik vir ’n geleentheid gewag het terug Paarl toe.
Jonathan het volgens sy vader, Johny, saam met vriende gegaan toe hulle in Milnerton gaan werk het.
Laat daardie aand het hy sy familie gebel en gesê dat hy ’n geleentheid huis toe soek, maar hy het nooit tuis opgedaag nie.
Op Maandag 1 Augustus is hy as vermis by die polisie aangemeld.
Weke van angs en hartseer het gevolg terwyl sy ouers met die hulp van Paarl-Oos polisie-insp Sedrick Daniels na die jong man gesoek het.
Volgens sy pa het die polisie sy lyk op 30 Julie langs die N1 naby Milnerton gevind. Daar was geen identifikasiedokumente by hom nie en hy is na die Tygerberg Hospitaal geneem.
Die vingerafdrukke is na Pretoria gestuur vir identifikasie en so is sy adres opgespoor.
Die familie is vandeesweek in kennis gestel en hulle het die liggaam gaan uitken.
“Ek is baie hartseer oor my seun se dood so vroeg in sy lewe, maar nou kan ek en die res van die familie berusting vind,” het sy pa gesê.
“Dis so asof Jonathan ’n voorbode van sy dood gehad het. Net voor hy Kaap toe is, het hy my gevra wat ek gaan maak as hy verdwyn en nooit weer terugkom nie. Ek het nog geantwoord hy sal nie lank wegbly nie, want ander mense sal hom nie so kan kosgee nie. Hy kon so baie eet,” het sy ma, Sylvia, gesê.
Die gedenkdiens is volgende Saterdag 8 Oktober om 10:00 tuis by Begoniastraat 35, Groenheuwel, en 11:00 in die Rehoboth-gemeentekerk in Simfonielaan.
* ’n Ondersoek word gedoen oor hoe dit moontlik is dat ’n liggaam in ’n lykhuis, ten spyte van navrae deur die polisie en familielede, vir byna twee maande onopgespoor kan bly.
More
News
|