Young Peoples wen stryd van Tiere
2010-09-02
DIE stryd van die Tiere is Saterdag op die Faurestraat-stadion deur die Tiere van Young Peoples gewen, toe hulle die Tiere van Tygerberg met 30-22 geklop het. Young Peoples was vroeg in die knyp toe Tygerberg binne die eerste minuut gaan druk het om die telling 5-0 te maak. Peoples se voorspelers het egter beheer oor die wedstryd begin neem, met die stut Bjorgan Julies aan die spits. Die stryd tussen die voorspelers was verwoed en Young Peoples moes met goeie verdediging telkemale die voorspeler-momentum van Tygerberg breek. Verskeie geleenthede om punte in die eerste helfte aan te teken het weens oorgretigheid en swak opsies verlore gegaan. Ná ’n verwoede aanslag deur Peoples op Tygerberg se doellyn, het die losskakel Dominic Daniels geslaag met ’n strafdoel om die telling op 3-5 te bring. Tygerberg se Angelo Brinkhuys het egter vinnig teruggeantwoord met ’n drie (12-3). Net voor rustyd het Peoples se Francois Julies ná ’n rolmaal-beweging gaan druk om die spanne te laat gaan rus met die telling op 12-10 in Tygerberg se guns. Peoples het ná rustyd met tempo-rugby die swaar voorspelers van Tygerberg oor die veld gespeel. Oscar Thomas het weer eens ’n reuse-wedstryd vir die Tiere gespeel en het groot plettervatte uitgevoer. Dominique Daniels het goeie rigting aan Peoples se agterlyn gegee. Ná swak verdediging deur die voorspelers, het Angelo Brinkhuys sy tweede drie vir Tygerberg gaan druk. Peoples se Lorenzo Jacobs het kort hierna gaan druk om sy naam op die telbord te voeg. Met tien minute voor die einde het Peoples oorgerus geraak en toegelaat dat Tygerberg ’n strafdoel behaal, maar na ’n strafdoel op Tygerberg se doellyn het die senter Sam Titus vinnig getik en langs die pale gaan druk. Die laaste vyf minute van die wedstryd was baie spannend toe Peoples verwoed probeer het om die bonuspunt-drie te druk. Ná verskeie stormlopies deur Bjorgan Julies, het die agsteman Oscar Thomas die bonuspuntdrie gaan druk om die Tiere met 30-22 te laat seëvier om hulle kans op oorlewing in die Superliga B lewendig te hou. Alles hang egter af van die wedstryd tussen Kraaifontein en Hands & Hearts eerskomende Saterdag. Peoples II het 15-17 verloor, Peoples III het 7-15 verloor en die o.20’s het 20-0 gewen. ) Die Feeswedstryd tussen Young Peoples en Pniel Villagers vind Saterdag op New Orleansvelde plaas. Toegang is R10 (R5 vir kinders). Junior wedstryde begin 09:00.
More
News
|