Roses United is Boland-kampioen
2010-09-02
ROSES UNITED het Dinsdagaand verseker dat hy gekroon word as die nuwe Boland Premierliga-kampioenspan toe hy Abbotsdale op Malmesbury met 36-25 geklop het. Met hierdie sege het die Rose ook verseker dat hy die Boland vanaf 18 September by die Nasionale Klubrugby-kampioenskap op Stellenbosch gaan verteenwoordig. Die wedstryd teen Abbotsdale is, soos verwag, teen ’n hoë tempo gespeel. Die Rose was die meer gefokusde van die twee spanne en het eerstens gesorg dat hy sy vier drieë druk ten einde die nodige bonuspunt te verdien om sodoende die liga-titel te verseker. Nadat die Rose hul vierde drie gedruk het, het hulle meer avontuurlustig geraak en van oral aanvalle geloods. Alhoewel die Rose gewen het, is daar ietwat kommer oor die aggtal wat ietwat swaar geleef het in die skrums teen die makro-pak van Abbotsdale. Vir die Rose het Percival Williams, Gerhard Goosen, Christopher Adams, Donovan Arendse en Denver Fortuin elk ’n drie gedruk. Wayne Matthee was suksesvol met een doelskop terwyl Williams suksesvol was met een strafskop en Cheslin Fredericks met twee strafskoppe. Roses het verlede Saterdag ook op Wellington die span van Wesbank in ’n titaniese wedstryd met 13-11 geklop. Hierdie wedstryd was gesien as ’n mini-eindstryd aangesien Wesbank die wedstryd moes wen om nog enige seggenskap te hê in die liga-wedloop. Die wedstryd is teen ’n geweldige tempo gespeel en veral voorlangs het beide spanne se agttalle uithalerspel gelewer. Vir die Rose het sy kaptein en agsteman, Ignatius Korabie, uithalerspel gelewer. Hyco Jacobs (slot), was ook weer meesterlik in die lynstane. Laasgenoemde se slotmaat, Shane Jacobs, het hom ook deeglik laat geld met sy onverskrokke verdediging. Agterlangs het Percival Williams en Donovan Arendse uitgeblink vir die Rose. Die Rose se vertoning is egter ontsier deur talle hanteerfoute. Hopelik is dit waaraan hulle gaan skaaf met die oog op die Nasionale Klubrugby-kampioenskap. Vir die Rose het Donovan Arendse ’n drie gedruk. Wayne Matthee was in die kol met ’n doelskop en twee strafskoppe. Die Rose pak hierdie week die span van Robertson in sy laaste liga-wedstryd van die seisoen. Die wedstryd word op Robertson se tuisveld beslis. Hierdie wedstryd sal talle spelers se laaste kans wees om te speel vir ’n plek in die span wat die klub by die Nasionale Klubrugby-kampioenskap gaan verteenwoordig.
More
News
|