Wanklank by radiostasie
2005-09-29
LUISTERAARS van die plaaslike gemeenskapsradiostasie Radio KC het die afgelope week 'n paar ou stemme gemis as hulle die radio op 107.7 FM aanskakel nie.
Dit het alles begin nadat die programbestuurder, Grant Johnson, verlede Dinsdag tydelik geskors is hangende ’n ondersoek.
Terwyl die stasiebestuur swyg oor die redes vir dié stap, het Johnson wel aan ’n Kaapse poniekoerant gesê dit is glo omdat hy “nie sy werk behoorlik doen nie, hy glo die raad ondermyn en oor onprofessionele gedrag”.
Vrywilligers is ook weg. Ryan Basson het in 'n brief aan die stasie gevra dat hy geskors word, terwyl Aubrey Barends en Cedrick Benans Claasen se dienste opgeskort is.
Verlede Woensdag en Donderdag het ’n groep ontevrede luisteraars ’n paar keer die stasie ingestorm en in woordewisselings met die personeel betrokke geraak. Hieruit is twee klagtes van naamskending en een van aanranding teen een van die betogers, Marthinus Gouws, by die polisie gelê.
By twee geleenthede, Vrydag en weer Dinsdag, het die ontevredenes op Jan Phillipsplein, voor die radiostasie, te betoog.
Vrydag was 'n onwettige betoging, terwyl hulle toestemming gehad het vir Dinsdag. By dié geleentheid is ’n memorandum aan die voorsitter van die raad, Jenny Cloete, oorhandig.
Hierin word daar onder meer geëis dat 'n algemene jaarvergadering van die stasie binne 14 dae moet plaasvind. Intussen vra die radiostasie dat enigeen wat probleme het, 871-1438 sal skakel.
* Disgruntled community members protested outside Radio KC in Paarl.
More
News
|