Wanneer interskoles en derbystryde in 2011 op die Faurestraat-stadion plaasvind kan toeskouers daarna uitsien om meer en gemakliker sitplekke te hê. Die bal is verlede week amptelik deur Drakenstein Munisipaliteit aan die rol gesit om ’n pawiljoen met 600 sitplekke direk noord van die huidige hoofpawiljoen op te rig. Tenderaars het verlede week op die perseel bymekaargekom om die perseel te ondersoek. Dié projek moet binne 7 maande voltooi word. Manie Troskie, projekbestuurder van BKS, sê dat niks afgeskeep sal word nie en dat die konstruksie sal aanpas by die huidige hoofpawiljoen. Dié pawiljoen sal ook ingerig word met geriewe soos toilette, store en kioske en sal na alle waarskynlikheid plastiekstoele hê. Foto: Sieb Sieberhagen