Eenstemmigheid onder partye
2010-09-02
OOK in Drakenstein is daar ’n baie goeie kans dat Patricia de Lille se Onafhanklike Demokrate (OD) ná slegs elf jaar van sy bestaan saam met die DA in die bed gaan klim. Stephan Otter, die OD se media-woordvoerder het bevestig dat die OD-lede in Drakenstein die samesmelting goedkeur. OD-lede het tot 30 September kans om by die DA aansoek te doen vir lidmaatskap waarna hulle ’n keuringsproses sal ondergaan voordat hulle volwaardige DA-lede sal word. OD-lede wat nie voor 30 September aansoek doen vir DA-lidmaatskap nie, sal lid bly van die OD tot die einde van die jaar, wanneer dit outomaties verval. Huidige stadsraadslede sal dubbellidmaatskap geniet tot en met die verkiesing volgende jaar en parlementslede sal lede van albei partye wees tot en met die nasionale verkiesing in 2014. Koos le Roux, DA-raadslid van Drakenstein, het gesê dat hulle nie bewus is van enige teenkanting van die OD se kant in Drakenstein nie. Dié “troue” tussen De Lille en Helen Zille, Wes-Kaapse premier en DA-leier, beteken ook dat enige lid wat belang stel om vir die DA te staan in volgende jaar se munisipale verkiesing, voor 8 Oktober aansoek moet doen. Volgens die leiers was dit die eerste stap in ’n beweging om alle opposisiepartye “wat dieselfde dink” saam te snoer as een groot alternatief teen die ANC.
More
News
|