Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Lang pad lê voor vir jong kankerlyer

Lang pad lê voor vir jong kankerlyer
 
2010-09-02

Lise Beyers

DIE een oomblik is als in jou lewe eksie-perfeksie, en dan skielik tuimel als inmekaar.”

Dit is die woorde van Nicolene Neethling, verslae moeder van ’n aktiewe jong seun wat voorverlede week met leukemie gediagnoseer is.

Dillon Neethling (8) het Saterdag op die veld uitgedraf vir Laerskool Gimnasium in die laaste rugbywedstryd van die seisoen teen Eversdal.

Hy het wel die oggend wakker geword met ’n hoofpyn, maar wou graag in sy laaste rugbywedstryd vir sy skool speel.

Min het hy geweet dat dit sy laaste wedstryd in ’n baie lang ruk gaan wees.

“Die wedstryd het skaars begin, toe hou Dillon sy kop vas en begin braak.

“Ons is dadelik dokter toe en sy hele liggaam was vol kolletjies. Die dokter kon ook voel dat sy milt geswel is en hy het ons dadelik na ’n spesialis verwys.

“Ná nog toetse is ek en my gewese man, Jacques, die skokkende nuus meegedeel dat Dillon waarskynlik bloedkanker het.

“Dít nadat Jacques nou in remissie is, nadat hy behandeling ontvang het vir limfoïedkanker. Dít was asof die doodstraf daar en dan aan ons gedien is.”

Nicolene vertel dat Dillon nog altyd ’n aktiewe, gesonde seun was.

“Hy is soos enige woelige seun. Hy is in die swemspan, maar sy groot liefde is rugby.

“Die Woensdag voordat hy so siek geraak het, het hy ook gekla van ’n kopseer, maar ons het almal verkoues onder lede gehad, en ek dog dis hieroor dat hy nie lekker voel nie.”

Dillon is dadelik ná sy besoek aan die spesialis by Tygerberg Hospitaal opgeneem.

“Dillon het nog altyd ’n fobie vir naalde gehad en nou is hy in ’n nagmerrie vasgekeer. Dit is byna asof daar elke uur iewers ’n naald in hom gedruk word.”

’n Lang pad lê nou voor met chemoterapie en daar word verwag dat hy vir ten minste nog twee weke in die hospitaal sal wees waar hy intensiewe behandeling sal ontvang.

Dan met sy tuiskoms sal dinge vir die hele familie moet verander sodat die huis geskik is vir sy pad na herstel.

“Indien Dillon nie positief reageer teenoor die chemoterapie nie, sal hy ’n beenmurgoorplanting benodig, maar hieraan wil ons nog nie dink nie.”

Tans neem Nicolene en Jacques elke 12 uur beurte om langs Dillon se bed te waak in die hospitaal.

“Ja, hy word gefrustreerd omdat hy nie kan rondhardloop nie en omdat hy baie seer kry. Maar hy is ’n sterk seun.

“Sy vyfjarige suster, Micke, verlang ontsettend na hom. Hulle praat wel dikwels oor die telefoon.”

En hoe hou ’n ma kop bo water wanneer sulke gevreesde nuus aan haar oorgedra word?

“Dit is net die genade van Bo en die ondersteuning en liefde van vriende en familie wat ons aan die gang hou. En ons moet positief dink - Dillon sal weer in al sy glorie op die rugbyveld uitdraf.”

* Indien Dillon ’n beenmurgoorplanting gaan benodig, is die kanse skraal dat daar binne sy familie ’n gepaste skenker sal wees. Dus is ’n organisasie soos die Sonneblom-fonds van goud werd vir bloedkankerlyers.

Die publiek kan lewens red deur as beenmurgskenkers te registreer. Vir verdere navrae oor die Sonneblom-fonds, besoek hul webwerf www.sunflowerfund.org.za of skakel 0800-121-082. Onthou om deel te wees van Nasionale Bandana-dag op 12 Oktober.

* A young scholar of Paarl has been diagnosed with leukemia after being taken ill while playing a rugby match.




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za